Die skote het behoorlik geklap in dié liefdesliedjies

0
421

‘n Mens kry vandag lag vir die lirieke van ou Afrikaanse liefdesliedjies. “Haar wange rooi soos rose, haar voorhoof lelieblank.” (Wange was nogals belangrik destyds.) “Daar woon ‘n Boerenooi, met wange rond en rooi.” Of in ‘n ander liedjie díe beskrywing: “Wange soos melk en bloed”.

Daar het oor die jare talle uitgawes van die FAK-sangbundel verskyn, wat gereeld opgedateer is. Dit is in 1937 die eerste keer gepubliseer en het gou ‘n ereplek in elke Afrikanerhuis ingeneem.

Ek besef dat my 1961-eksemplaar bietjie oud begin raak, maar dit bly kosbaar. Dit bevat die liedjies waarmee ek grootgeword het en wat ons in skoolkore, by Voortrekkerbyeenkomste en tydens volkspele-aande gesing het. (Wat het Jamie Uys in Lord Oom Piet gesê: “Laat net een donner lag!”)

Met die deurblaai kom daar baie herinneringe terug. Daar was ‘n Dina-meisie saam met my op laerskool, en elke keer as ons Ek soek na my Dina gesing het, het ek stilletjies na haar geloer. (Sy’t nooit teruggekyk nie.)

Daardie Santjie van Soendal was ‘n rowwe girl, het ons gedink. Sy was nie net “bron van my vreugde” nie, maar ook “bron van my smart”. Dit was mos sy wat kort-kort koketterig kombuis toe verdwyn het, en dan het een van die “lastige skaar” kêrels haar gevolg. “As van die lummels my in die kombuis, woedend bedank onder kneukel en vuis.”

Die afdeling Volk en Vaderland het altyd groot aftrek gekry. Ons het uit volle bors Die Lied van Jong Suid-Afrika, Afrikaners Landenote en Die Vlaglied gesing. En natuurlik die ou Vrystaatse en Transvaalse Volksliedere. Kanonne het in Afrikaans gebulder en skote het geknal, soms selfs op die wysie van die Franse Volkslied, La Marseillaise.

Zuma kan gaan slaap as hy dink hy was eerste met sy masjiengeweer in Umshini wami. Ons het sommer in piekniekliedjies die gewere nader getrek. Onthou jy die laaste versie van Hoe ry die Boere? “Hoe skiet die Boere, boem, boem, boem.” En dan aan die einde: “Die Kaapse nooi sê: Skiet nog een! Skiet nog een! Skiet raak!”

Albé Grobelaar