Die skildery

0
941

Ek lees in die week die volgende verhaal (Daaglikse Brood:1997): ’n Ouerige man met swak oë het homself as ’n kunskenner beskou. Eendag het hy saam met sy vriende ’n kunsmuseum besoek. Hy het sy bril by die huis vergeet en kon die skilderye nie baie goed sien nie. Tog het hy in die galery rondgeloop en by elke skildery het hy sy opinie gegee. Die een vollengte skildery het dadelik sy aandag getrek en hy het dit begin kritiseer. So het dit geklink: “Die raam pas nie by die skildery nie. Die persoon in die skildery is te eenvoudig en slordig. Die skilder het werklik ’n swak keuse gemaak met die figuur wat geskilder is.” So het hy krities sy mening oor die skildery gegee. Ná ’n lang gesprek, het ’n vrou hom eenkant toe getrek en in sy oor gefluister: “Meneer, ekskuus tog, dit is nie ’n skildery nie, dit is ’n spieël!”
Is dit nie waar van jou en my nie? Dit is so moeilik om ons eie foute raak te sien en tog sien ons ander se foute dadelik raak. Is dit nie wat gebeur met Dawid in 2 Samuel 12:1-10 nie? Dawid sien dadelik die man raak wat die lam gesteel het, maar hy vergeet van sy eie sonde. Kom ons probeer vandag eers in die spieël kyk voor ons ander se foute uitsoek en raaksien!

Ds.Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.