Dirk Kok – In die arena van die groot tent van McLaren Circus leef David McLaren sy droom.
Hy is die wêreld se jongste sirkusbaas. Môre (2 November) vier hy sy 30ste verjaardag saam met sy sirkusfamilie waar sy tent op die skougronde in Bloemfontein staan.
McClaren Circus is so amper tien jaar gelede in die Wes-Kaap gebore met ’n klein tent, twee ponies, ’n slang, ’n poedel en Billy die bok. Billy is nou afgetree, maar hy ry steeds saam, van stad tot stad en dorp tot dorp.
Hierdie sirkus is sirkusbaas David en Billy die bok, die personeel en artieste en ander diere se huis. Die ‘familie’ bestaan uit 52 personeellede en artieste van oor die wêreld heen, wit leeus, leeus, Bengaalse tiere, ’n wit Bengaalse tier, poedels, Burmese luislange, Arabiese kamele, miniatuurperdjies en ponies.
“Ek is gelukkig. Toe ek vier was, het die magic van die sirkus my beetgekry. Ek het sirkus gespeel. Ek was obsessief oor sirkus. Toe ek 21 word, het ek besluit nóú begin ek my eie sirkus. Te veel mense jaag geld na en is elke dag treurig omdat hulle nie hul droom leef nie.”
Elke dag is vir hom wonderlik as hy in die arena staan en na die gesigte van die skare kyk.
“Ek kry dikwels trane van blydskap. Mense geniet dit, want dit is back to basics. Jy sit glimlagge op mense se gesigte. Ons gee ’n lekker moderne geur aan iets wat ouer as 100 jaar is. Ons verander hier en daar iets, maar sirkus is steeds sirkus. Soveel oumas en oupas loop hier uit en sê ons laat hulle dink aan die ou dae van die sirkus.
“Sirkus is ook een van die min kunsvorms wat mense van alle gelowe, kulture en rasse lok, want jy vermaak kinders. Dis universeel. Almal het die sirkus lief.”
Maar wat van diereregtegroepe en -liefhebbers wat hul mes in het vir sirkusse?
“Hulle is oningelig. Hierdie mense kom nooit na my toe om my oor die diere uit te vra nie. Al hierdie groot katte is in gevangeskap in die Vrystaat gebore en in gevangeskap grootgemaak. Hulle is nie bosleeus nie. Hulle is sirkusleeus. Hulle ken niks anders nie. Ons gee hulle ’n goeie lewe: die beste wat ons kan.”
Dan noem hy Thandora, Bloemfontein se dieretuin-olifant wat op aandrang van diereregtegroepe in die natuur vrygelaat is en summier gevrek het.
“Sy sou nog geleef het as sy nie sogenaamd vrygelaat is nie. Sy was ’n dieretuin-olifant. Mense het hierdie obsessie om diere vry te laat, maar dan misluk dit. Mense moet na die groter prenjie kyk en hul navorsing doen. Hulle moet nie net kritiseer nie.
“Solank ek meer mense met glimlagge in my sirkus het as mense wat kritiseer, sal ek sirkus hou.”
‘n Tevrede man. Sirkusbaas David McLaren in die arena ná gisteraand se vertoning in Bloemfontein. McLaren Circus is nog tot 10 November in Bloemfontein. Foto: Dirk Kok