Die roemrykste Spele nog

0
527
London Olympics, White City Stadium Photo: HockeyGods

Die Olimpiese Spele duur gewoonlik nie veel langer as twee weke nie. Maar dit was nie altyd so nie.
Die roemryke Spele van 1908 in Londen het niks minder nie as 187 dae lank aangehou, loshande die langste Olimpiese Spele in die geskiedenis. Dit was ook die eerste Olimpiade waaraan Suid-Afrikaanse atlete deelgeneem het.
Die marathon was een van die hoogtepunte. Daar het 56 atlete by Windsor-kasteel aangetree op daardie warm middag laat in Julie. Onder hulle was ‘n kort, skraalgeboude Italianer, Dorando Pietri, die Suid-Afrikaner, Charles Hefferon, en ‘n Amerikaner, John Joseph Hayes.
By die 15 myl-merk het die Springbok, Hefferon, wat een van die gunstelinge was, die voortou geneem. Na 20 myl, met slegs sowat ses myl oor voor die eindpunt by die Sheperd’s Bush-stadion, was Hefferon ‘n goeie vier minute voor sy naaste teenstander. Maar die pas was te straf en hy is kort voor die stadion deur eers Pietri en toe ook Hayes verbygesteek.
En toe kom die drama. Toe Pietri by die stadion inkom, was dit duidelik dat hy nie geweet het wat om hom aangaan nie. Met swikkende knieë het hy rondgesteier en met moeite vorentoe gestrompel. Toe hy enkele treë van die eindpunt af inmekaarsak, het ‘n paar baanbeamptes hom ongevraagd te hulp gesnel en oor die wenstreep gehelp. Hayes is kort daarna in die tweede plek verby die wenpaal met Hefferon derde.
Nadat die Amerikaners beswaar gemaak het, is die moedige klein Italianertjie, terwyl dokters om sy lewe veg, gediskwalifieer. Hayes het, tot groot ontsteltenis van die toeskouers, die goue medalje en Hefferon die silwer medalje gekry.
Dorando Pietri het heeltemal herstel en het later ‘n reuse- goue beker van Koningin Alexandra ontvang. Die voorval het hom internasionaal beroemd gemaak. Die komponis, Irving Berlin, het ‘n liedjie getiteld “Dorando” aan hom opgedra, en hy is uitgenooi om aan verskeie byeenkomste in die VSA te gaan deelneem.
In ‘n spesiale wedloop by Madison Square Garden in New York het Pietri in November 1908 weer teen John Hays te staan gekom en hom oortuigend gewen.

ALBÉ GROBBELAAR