ALZANE NARRAIN
“Ons het baie lank gesukkel om met ‘n gesin te begin. Ons was by die vrugbaarheidskliniek en niks het gewerk nie. Ons wou graag kinders hê en besluit toe op aanneming. So het ons gesin ‘n werklikheid geword.” Dit is hoe baie vroue in Suid-Afrika voel.
Ma
Marzanné en haar man was 10 jaar getroud voor hulle ‘n baba vir anneming gekry het. Die baba was ‘n groot verandering in hul lewe. “Haar kot kon nie in ons kamer pas nie en ons het dit in die kamer langs ons s’n gesit. Ek het vir my ‘n bed langs haar kot op die grond gemaak sodat ek daar vir haar kon wees as sy wakker word.”
Marzanné en haar man het van die begin af vir hulle kind gesê sy is aangeneem want hulle wou dit nie vir haar wegsteek nie. “Ek het aangesluit by die anneemouer-vereniging en hulle raad was dat ons haar van kleins af vertel sodat dit nie eendag vir haar ‘n skok sou wees nie. Ons het aanneming vir haar verduidelik in storievorm soos byvoorbeeld Die drie bere.”
Nadine* is nes enige ander tiener wat nou en dan vassit met haar ouers. “Sy praat baie met my oor diep dinge wat haar pla en ons kom goed oor die weg al stry ons nou en dan.”
Hulle het ‘n nie-geopenbaarde aanneming gehad sonder werklike inligting oor die biologiese ma. “Vandat my dogter kon verstaan wou sy meer weet oor haar biologiese ma. Ons het haar vrae na die beste van ons vermoë beantwoord. Marzanné het toestemming gegee dat Nadine se biologiese ma opgespoor word en hulle skryf nou al ‘n jaar vir mekaar. “ Dit is nog effe vreemd om te dink daar is nou nog iemand in haar lewe, maar ons almal sien uit daarna dat sy haar biologiese ma sal ontmoet wanneer sy 18 word. Sy wil graag sien waarvandaan sy kom. Ek sal altyd daar wees vir my meisiekind.”
Dogter
“My ma-hulle het my gered. Hulle gee my alles en offer baie op. Ek dink dit vat baie guts om ‘n kind lief te hê wat nie joune is nie. Ek dink my lewe is beter omdat hulle my gekry het toe ek 11 dae oud was en voor ek weeshuis toe gestuur is,” sê die 17-jarige. Sy erken dat alles nie maanskyn en rose is nie. “Ek het baie verwerping ervaar oor die jare. Dit vat maar aan ‘n mens. Kinders op skool het my gespot. Dit het ‘n rukkie vir my ma en pa se familie geneem om my te aanvaar. Niggies en nefies het my paar gespot, maar nou gaan dit beter.”
Nadine glo aanneming het ‘n sterker mens van haar gemaak. Sy sê sy praat oor aanneming in haar LO-klas sodat meisies kan weet wat kan gebeur as hulle nie versigtig lewe nie.“Ek dink mense is bang om ‘n kind aan te neem, want hulle is bang die kind sal hulle nooit aanvaar as ouers nie. Dit maak regtig ‘n verskil in ‘n kind se lewe.”
Volgens maatskaplike werker Hendré Dippenaar, is die doel van aanneming om ‘n geskikte tuiste en gesin vir ‘n kind te kry. “Aanneming is ‘n lang proses omdat daar doodseker gemaak moet word dat die aanneming in die betrokke kind se beste belang is en dat aan al die regsvereistes voldoen is.” Dippenaar sê mense wie se se naam op deel B van die Kinderbeskermingsregister en/of op die Register vir Seksuele Oortreders verskyn, nie geskik is om kinders aan te neem nie. “Die presentasie van kinders wat aangeneem word is 60% babas (0-3 jaar), 20% kleuters (3-6 jaar) en 20% ouer (6-18 jaar),” sê Dippenaar.
*Nadine is ‘n skuilnaam omdat sy nog minderjarig is en ons nie haar identiteit bekend kan maak nie.