Die produk is nie die belegging

0
557

Ek het telkemale al gesprekke gehad met kliënte wat beweer dat ‘n uittree-annuïteit of ‘n uitkeerpolis swak beleggingsgroei oplewer.

So het ek na ‘n onlangse gesprek met ‘n kliënt weereens besef dat daar oor die algemeen heelwat wanpersepsies bestaan. ‘n Produk soos ‘n uittree-annuïteit of ‘n uitkeerpolis of enige ander produk wat in die mark beskikbaar is, is net ‘n struktuur. Dis ‘n “leë dop” wat jy in jou finansiële beplanning gebruik om jou geld op ‘n sekere manier te kanaliseer.

Daar waar jou geld in werklikheid opeindig, dit is die belegging en dit is waar jou groei plaasvind. So sal jy byvoorbeeld 10 persone kry wat almal uittree-annuïteite op dieselfde tyd uitneem. Elkeen van dié persone gebruik egter onderliggend verskillende beleggingsfondse/-instrumente om in te belê. Hulle sal verskillende groeikoerse op hulle uittree-annuïteite ervaar, gegewe dat elkeen se onderliggende beleggingsportefeulje verskil. Net so kan een persoon ‘n uittree-annuïteit gebruik as ‘n beleggingsvoertuig en ‘n ander persoon ‘n uitkeerpolis. Albei die persone belê egter onderliggend in dieselfde beleggingsfonds (effektetrust).

Hoewel die twee persone verskillende produkte gebruik het, sal hulle dieselfde groei ervaar omdat hulle dieselfde beleggingsportefeulje benut het. Die finansiële behoefte wat jy het, sal jou dus lei na watter produk jy moet gebruik. ‘n Finansiële behoefte kan wees om ‘n maandelikse inkomste te genereer uit jou kapitaal, te spaar vir aftrede, vir kapitaalgroei, herstrukturering van jou boedel, sekere beleastingvoordele, ensomeer.

Sodra jy sekerheid het oor jou behoefte, kan jy dus die mees gepaste produk/te identifiseer om die behoefte aan te spreek. Die volgende sal wees om te bepaal watter tipe belegger jy is, hoeveel groei op jou geld jy wil najaag, ensomeer.

Anwoorde op dié vrae sal jou weer lei na hoe jy jou onderliggende beleggingsportefeulje moet struktureer om jou beleggingsdoelwitte te realiseer. Uit bogenoemde is dit duidelik dat jy eers moet besluit watter produk jou finansiële doelwitte en finansiële plan die beste gaan pas (en die besluit het niks met beleggingsopbrengste te doen nie).

Tweedens, sal jy moet besluit wat jou beleggingsdoelwitte is en daarvolgens jou beleggingsportefeulje struktureer (die besluit het weer niks met produkte te doen nie, maar eerder met jou verwagtinge rondom finansiële markte en die beleggingsrisiko wat jy bereid is om te neem).

Met uitklaring van bogenoemde sal jy met ‘n produk of struktuur sit wat in ‘n sekere finansiële behoefte sal voorsien terwyl jy jou kapitaal so kan struktureer om weer in sekere beleggingsdoelwitte te voorsien.

Indien jy dus met ‘n produk sit wat “swak presteer”, gaan soek eerder die fout by die onderliggende beleggingsportefeulje.

horace@nassaux.com