DIE PIENK TRAAISIEKEL

0
1694

Skrywer: Nico Moolman
ISBN: 0-620-37265-6
Formaat: 112 pp, sagteband
Prys: R89-95

Nico Moolman se eerste penvrug, Kuier in ‘n Plaaskombuis, het binne ‘n jaar volksbesit geword en reeds ‘n derde druk beleef. Kuier in ‘n Plaaskombuis is ‘n luukse publikasie waarvan die inhoud elke sent daarop spandeer die moeite werd maak. Die Pienk Traaisiekel, daarenteen, sit Moolman se segetog voort as boek wat die potensiaal het om ‘n nuwe leestradisie te vestig – teen ‘n sakpakprys. Eie aan Moolman, getuig die bundel van sy uitsonderlike vermoë om woordprentjies te skilder en die leser so bekend te stel aan die “hartmense” waaroor hy so graag skryf.

Die subtitel: Vanmelewe se liegendes en ellendes vat die inhoud tong-in-die-kies saam. Met ‘n dosyn kortverhale uit verskillende eras skep Nico Moolman kontreikuns wat prààt. Die stories wissel van skreeusnaakse oorvertellings soos “Die Russiese Worshond” tot die diepsinnige, uit die hart belydenisse in “Die Steenkoolengel”.

‘n Mens is ‘n mens deur ander mense. Die vertellings “Tandoori hoender en koesisters” en “Tant Magriet se Krismistango” ontgin menseverhoudinge.

My persoonlike gunstelinge is “’n Ducktail maak ‘n sudden move” en “Met ‘n Spoetniek Makwassie toe”. Die tipiese eendstert gedrag en taalgebruik is ‘n openbaring van ‘n tyd waarvan ek nog net gehoor het en ‘n fyn spot met menslike swakhede. “Met ‘n Soetniek Makwassie toe” het ‘n onverwagse intellektuele kinkel in die kabel. Die verhaal: “Op die Majoor… Laat hy val waar hy wil!” is raar, maar “Oom Kotie sien sy eerste panty” vat die koek.

Die boek is eiesoortig en gebruikersvriendelik. Moolman se fyn waarnemingsvermoë en eietydse woordgebruik gee aan die boek ‘n karakter van sy eie. Vertellings word aangevul met ou foto’s en elke foto vertel sy eie storie en maak vergete beelde en emosies wakker. In die woorde van die radio-veteraan, Fanus Rautenbach: “…’n prettige boek vol herinnering en onvergeetlike kitsch. Dié boek is nie sommer nie – dis erfgoed. Die Pienk Traaisiekel is die voertuig waarmee ‘n era ontsluit word.”

Nico Moolman is kultuurskrywer by uitnemendheid. Hy is ‘n skrywer vir lesers met ‘n hart wat klop vir vlees-en-bloed mense. In sy eie woorde: “Die magiese wagwoord tot my sielskluis is kultuur…die impuls wat my sintuie nodig het om dit wat ek geniet nog meer te geniet tussen my mense en ons gedeelde gewoontes en geite. Dis mos kultuur om in jou hartttaal te skater of skinner.”

Daarom is vanmelewe se staaltjies sandsuikerlekker…