Die Parlotones se Kahn kom Bfn betower

0
942
Kahn Morbee

Kahn Morbee, voorsanger van die wêreldbekende en uiters suksesvolle SuidAfrikaanse musiekgroep, The Parlotones, is hard besig om sy stembande te oefen vir sy langverwagte solokonsert in die Rosestad. Morbee tree op Vrydag 5 Maart 2021 saam met ‘n orkes by die Asvoëlklub op, en volgens die eienaar, Hein Griesel, gaan dit ‘n konsert wees wat Bloemfonteiners nie durf misloop nie.

“Ons weet almal dat Kahn ‘n geniale kunstenaar is wat al gehore oor die wêreld heen betower het. Boonop gaan hy, benewens sy eie musiek, ook baie van die Parlotones se musiek sing. “Ek sou Bloemfonteiners aanmoedig om die konsert te by te woon, nie net omdat dit puik vermaak is nie, maar ook omdat kunstenaars die afgelope jaar swaarkry en ons almal se ondersteuning nodig het,” sê Griesel.

Hy sê daar sal slegs ‘n beperkte aantal kaartjies beskikbaar wees om by Covid19-regulasies te hou. So, belangstellendes moet gou spring om hul kaartjies te kry. Volgens hom sal daar in alle opsigte streng by Covid-19-regulasies gehandhaaf word om almal veilig te hou.

Luidens Morbee se amptelike webtuiste het daar sedert die uitreiking van solo-album in 2015 baie gebeur in die professionele sowel as persoonlike lewe van hierdie talentvolle kunstenaar. Behalwe dat sy tweede solo-album in 2017 uitgereik is, het hy ook drie kinders ryker geword. Sy eersteling, Jaxon ,is in 2015 gebore en twee jaar later het sy tweelingseuns, Gus en Thom, hul opwagting gemaak.

“In daardie tyd het ek ook twee seisoene van The Voice South Africa as ‘n afrigter gewen. Ek het op redelik lang toere gegaan om my eie asook die Parlotones se nuwe musiek bekend te stel.

Ek het saam met die Parlotones die album Antiques & Artefacts, die CD/DVD Orchestrated en die boek Stories Behind the Songs uitgereik,” sê Morbee op sy webtuiste. Kaartjies vir die konsert kos R150 en die deure open om 18:00. Vir meer inligting, bel Griesel by 084-559-8991

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za