HORACE TERRY
Verlede week het Ian Bester van Coronation Bloemfontein besoek en ‘n praatjie aangebied by die Jenwil BlouSter en Coronation Batebestuurders beleggingsaanbieding.
Bester het ‘n magdom waardevolle inligting met gaste gedeel waarvan ek graag ‘n paar hoofpunte wil uitlig.
Eerstens blyk dit of die volgende tien jaar vir beleggers moeiliker gaan wees as die afgelope tien jaar. Anders gestel, gaan beleggers daaraan gewoond moet raak dat hulle laer opbrengste gaan kry as in die verlede. Vir plaaslike beleggers wat buitelandse blootstelling wil kry, is die tyd nou ryp. Die rand is relatief sterk, en buitelandse bates is tans baie beter geprys as tien jaar gelede. Volgens Bester blyk dit of die voorkeur bateklas, op plaaslike en buitelandse markte, aandele gaan wees. Bly egter gediversifiseer oor al die bateklasse heen, met ‘n voorkeur tot aandele. Buitelandse aandele wat Coronation tans as waardevol ag, en in hul fondse aangekoop het, is onder andere Johnson & Johnson, Heineken, Vodafone, Microsoft en Cisco. ‘n Paar dwarswinde wat plaaslike beleggers te wagte kan wees in die volgende tien jaar, is geleidelike stygings in inflasie en rentekoerse wat maatskappyverdienstes onder druk kan plaas. Moet ook nie dat Statistieke Suid-Afrika jou flous met ‘n inflasiekoers van slegs 4.9% nie. Die gemiddelde Suid-Afrikaner ervaar eerder ‘n inflasiekoers van tussen 10-15%. Dit is natuurlik te danke aan die drastiese stygings in die kostes van elektrisiteit, olie, alkohol, water, heffings, opvoedkundige dienste ens.
‘n Ander skokkende feit is dat uit 18 lande, Suid-Afrika, naas Mexiko, die mees onproduktiewe land is (met China wat die mees produktiewe land is). Die probleem is dat ons met vakbonde sit wat aandring op onrealistiese loonverhogings en dat die persone wat die verhogings dan kry, nie produktief genoeg is nie. Coronation se verwagting is ook verder dat ons tans nog net op die vooraand van die elektrisiteitstariefverhogings is, en dat ons nog aansienlike verhogings tot 2021 toe kan verwag.
Alles is darem nie net “doom and gloom” nie. Suid-Afrika is ‘n ontluikende ekonomie met heelwat rykdom in goud, platinum ens. Die vraag is, hoe gaan ons die posisie in die jare wat kom benut? Jy as ‘n belegger sal moet verseker jy kry die regte raad op die regte tyd, aangesien daar steeds goeie geleenthede is, en daar geen rede is waarom jou beleggings nie inflasie sal kan uitpresteer nie.