Die outentieke klank van Kenny Hughes

0
256
Kenny Hughes (23)

“Dit is so belangrik om plaaslike talent te ondersteun, want talent uit Suid-Afrika is absoluut wêreldklas.” Dit is volgens 23-jarige sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler, Kenny Hughes, wat homself opgewerk het in die Vrystaatse musiekbedryf. Hughes, wat in Dunnottar gebore is, woon tans in Bloemfontein en poog om ‘n vars bries na die vermaaklikheidsbedryf te bring en sy invloed te laat geld waar hy kan.

Hughes, wat ‘n spesiale liefde vir die blues het, verkies om sy eie musiek uit te voer en sy eie liedjies te skryf. “Niemand kan jou vertel hoe om jouself te wees nie. As ek aan musiek dink, is dit vir my duidelik dat dit al is wat ek wil doen, dis die enigste liefde wat my nooit verlaat het nie,” sê hy.

Hughes speel al tien jaar kitaar en het begin met ‘n paar lesse, maar die meeste van wat hy weet, het hy deur selfonderrig vermag saam met wat hy van ander kitaarspelers geleer het. “Ek het ongeveer dieselfde tyd begin sing en alhoewel ek nooit ‘n stemles gehad het nie, het ek soort van net my eie stem ontwikkel.”

Hughes het al openingsmusiek vir sommige van die grootste name in die musiekbedryf soos Black Cat Bones, Jack Parrow en Jeremy Loops gedoen. “Ek wil hierdie jaar graag soveel feeste doen as wat ek kan, en soveel plekke moontlik vind wat plaaslike musiek ondersteun. Ek het so baie fantastiese plekke gevind, daar moet net eenvoudig nog meer wees.”

Lesers kan al Hughes se inligting op sy Facebook-bladsy @kennyhughesofficial en Instagram kennyhughes_artist vind om uit te vind waar waar sy volgende optrede gaan wees. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za