‘n Gedeelte van die N1 by Heuningspruit in die Vrystaat is steeds gesluit vir verkeer ná drie vragmotors en ‘n bakkie gisteraand omstreeks 23:00 in ‘n kettingbotsing betrokke was. Polisiewoordvoerder, Ian Gaopebe, sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend maar dit wil voorkom of ‘n vragmotor, wat pype vervoer het, met ‘n bakkie gebots het. Hy sê lede van die plaaslike brandweer en insleepdienste is steeds besig om die toneel op te ruim. Dit is nog nie bekend hoeveel mense dood is nie.
Volgens hom is ‘n vragmotorbestuurder ernstig beseer en na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Motoriste moet van alternatiewe roetes gebruik maak. Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg word via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei word. – Christal-Lize Muller