Die mooi van die lewe

0
1416

Die wildtuin hou nog altyd vir my ‘n bekoring in. Elke jaar as die geleentheid hom voordoen, pak ons die waentjie en maak gereed om in die wildtuin te gaan kampeer.
Geen vakansie het so ‘n rustigheid en mooi as juis die natuurlewe van die wildtuin nie. Die voëls wat kwetter in die bome, die soektog na die groot vyf en die “geluksoomblik” as een lid van ons gesin ‘n luiperd of leeu gewaar.
Dit is die oomblikke wanneer ons as familie bewus raak van die grootheid van die skepping en die almag van die Skepper God. Hiervan lees ek in Jesaja 57:15. Die heilige en grote God is alomteenwoordig.
Hy is in die hoogste hemel, maar ook in die gewone van die skepping – in die gewone van jou en my lewe! Hy het ons gevorm en die skepping gewil – almagting en groot is Hy.
Is dit nie juis die oomblik dat ons vandag moet stil raak en Hom moet sien in Sy grootheid nie? Wil jy nie saam met my net weer sien wat Hy alles gemaak het nie; die mooi van voëls in die hok, die sagte oë van Lielie, ons klein brakkie, en die purr van Bingo, die katjie op die vensterbank!
God se grootheid in die gewone!

DS STEPHAN VAN HEERDEN