Die Bloemfontein Mannekoor bied die Nasionale Manne-Koorfees op 29 Julie in die Odeion aan. Volgens die koor se Ansphi van der Walt kan Bloemfontein uitsien na ’n aand van pragtige sang vir ’n goeie doel.
Die doel van die vertoning is om fondse in te samel vir die koortoer na Europa. Sy het aan Bloemfontein Courant vertel dat hierdie skouspelagtige geleentheid die koor se 23ste bestaansjaar vier en ook hulde bring aan die stigters van die Bloemfontein Mannekoor.
Die laaste stigterslid is onlangs ter ruste gelê. Feesgangers sal kan luister na die Bloemfontein Mannekoor, George Mannekoor, Pretoria Mannekoor, Randburg Mannekoor en Take Note (Bfn), met Petro Engelbrecht (klavier), Jan Beukes (orrel), Jo Kunnuji (trompet) en John Smit (perkussie). Daar sal ook optredes wees deur gaskunstenaars Jacobus Silwer, Mario Lategan, Thabo Hlangwane en die roos tussen die dorings, Ella Kotze. “Ek het ’n puik vertoning saamgestel wat die kore en die gaskunstenaars afwissel. Die items wat gesing gaan word, is pragtig,” sê Van der Walt.
Sy voeg by dat daar ook ’n lekker “vibe” gaan wees met ’n paar verrassings. “Dit gaan regtig iets anders wees,” sê sy.
Die vertoning begin om 19:00 en kaartjies kos R120 per persoon. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by phoenixpro.co.za en op die dag by die vertoning.
Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za