Die man agter die stem

0
591
Corneil Muller, deelnemer aan The Voice SA

Oud-Bloemfonteiner Corneil Muller (32) is die naam wat op die oomblik op almal se lippe lê. Dit nadat hy Suid-Afrika verras het met sy engelstem toe hy op The Voice SA op die verhoog was en die 13de deelnemer geword het in die kompetisie (wat normaalweg uit 12 deelnemers bestaan). Muller het beoordelaars se harte gesteel. Hy het aan Bloemfontein Courant vertel hoe hy aanvanklik onseker was of hy aan die kompetisie wou deelneem, maar ‘n paar goeie vriende en sy suster het hom finaal oortuig om te probeer.

“Ek glo ook dat dinge in mens se lewe gebeur wanneer die tyd reg is – en vir my was die tyd perfek,” vertel hy. Muller het aan Bloemfontein Courant hoedat hy uiters talentvolle en wonderlike mense ontmoet het wat dieselfde droom as hy het. Dit was een van die dinge wat dit vir hom die ervaring van ‘n leeftyd gemaak het. Volgens hom het die verhoudings met ander sowel as die herinnering aan die ervaring die hele gebeurtenis vir hom nóg beter gemaak.

“Niemand het ooit gesê dat dit maklik sal wees nie, maar wat mense nie dikwels genoeg sê nie, is hoe bevredigend die ervaring is, veral wanneer jy dit na die beste van jou vermoë doen.”

Muller werk tans aan ‘n album wat hopelik klaar sal wees voor die lente vanjaar. Hy doen ook gigs wat in verskeie dorpe in Suid-Afrika bespreek is. “En natuurlik, om altyd met mense te kommunikeer in die enigste universele taal, musiek!”

Muller sê dat hy verkies om in sy vrye tyd saam met vriende wat ‘n positiewe impak op sy lewe maak, te wees.

“Ervarings is iets waarop ek my lewe bou, of dit is om vroegoggend op ‘n berg te gaan stap of iewers op ‘n Saterdagoggend na ‘n klein mark toe ry en vier van Aunty Miriam se samoosas te koop.”

Muller het met Bloemfontein Courant gedeel dat hy nou meer gereed is as ooit vir alles wat musiek in sy lewe vir hom gaan doen. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za