Die lewe nie altyd swart en wit

0
862

“Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.” Die oumense was baie lief vir hierdie spreekwoord.
Eerlikheid is by ons ingedril. Jy loop die reguit pad. Jy doen nie aan ander wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Jou goeie naam is ál wat tel.
Die Tien Gebooie was nogal groot toe ek klein was. Elke Sondag tydens die oggenddiens daar in die NG Gemeente Vrede-Wes, het ds. Cloete uit Eksodus 20 voorgelees. As kind kon ek nie al die begrippe verstaan nie. Wat was ‘n slawehuis, ‘n gesnede beeld, en ‘n vreemdeling in jou poorte? Hoekom was God jaloers? En wat was die “misdaad van die vaders” wat “besoek word” aan die kinders “aan die derde en aan die vierde geslag”?
Maar die een gebod waaroor daar geen twyfel kon wees nie, was die agtste gebod. Dit was ondubbelsinnig, selfs in die ou 1933-vertaling. “Jy mag nie steel nie.” Daar het dit gestaan, swart op wit. Jy vat nie iets wat nie joune is nie.
Oor die jare het ek diep gedink en wroegend geworstel oor hierdie gebod. Is “steel” altyd steel? ‘n Mens kry tog omstandighede én omstandighede. Vat nou maar byvoorbeeld ‘n supermark. Jy stap met jou trollie tussen die rakke rond, op soek na iets. En dan sien jy ‘n ander trollie staan. En in hierdie onbewaakte trollie is presies daardie produk wat jy soek.
Is dit steel as jy dit vinnig uithaal en in jóú trollie sit? Onthou, dis binne-in die winkel, niemand het nog betaal daarvoor nie.
Wat van die sepie in ‘n hotelkamer. En die botteltjie sjampoe. En die houertjie handeroom. Hulle is altyd so fraai verpak. As jy (ten duurste) betaal het vir daardie hotelverblyf, is dit steel as jy die halwe houertjies wat oor is wanneer jy uitboek, in jou tas sit? Wat van daardie dun lappantoffeltjies in sommige hotelle? Die pen en die skryfblok? Kom ons los maar die handdoeke…
Die lewe is nie altyd swart en wit nie. Daar’s groot grys gebiede.

ALBÉ GROBBELAAR