Die laaste Kersboom

0
722

Ds. Stephan van Heerden

Ek wonder hoe dit voel om die laaste Kersboom op die winkelrak te wees voor Kersfees. Al die ander bome is verkoop, hulle takke was moontlik beter gesnoei, die blare was mooi gevorm en die kleur was reg. Nou is dit die enigste boom wat niemand wil hê nie. Miskien het jy ook al tye ervaar waar jy soos die enigste boom op die rak gevoel het. Niemand stel in jou belang nie en jy voldoen nie aan die eise wat mense stel nie. Dit voel vir jou of niemand jou raaksien of vir jou omgee nie. Die wonderlike boodskap van 1 Sameul 16:7 is dat "die mens na die uiterlike kyk, maar die Here na die innerlike." Isai se jongste seun Dawid was in die veld besig toe die Here bepaal het wie die koning in Israel moet wees. Dadelik nadat Dawid voor Sameul gestaan het, is hy aangewys as koning oor Israel. Die Here het Dawid se innerlike geken, hy "was ’n man na my hart, sê die Here", volgens Handelinge 13:22. Vandag nog soek die Here mense wat met hulle hele hart Hom wil dien. Hy kyk verder as die uiterlike – Hy wil jou gebruik ten spyte van jou foute en seer!

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.