Die kunstenaars wat Bfn gaan betower

0
2883
FOTO'S: GERDUAN KEMP

Arco Musica het hul orkeslede, wat spog met uiters bekwame musikante, bekend gemaak vir die aanbieding van nog ‘n glansryke geleentheid in die Rosestad.

Die orkes bestaan uit Debbie Brink (klawerbord), Arend Brink (tjello), Johann van Deventer (baskitaar), Petrus van Wyk (akoestiese en elektriese kitaar), Andries Mostert (saxofoon), Richard Reid en Sharon de Kock (viool), Angelo Mockie (tromme) en Arend Brink jr, Mario Lategan en Cézanne Yzelle as sangers.

Volgens Arend Brink is die instrumente wat gebruik gaan word ‘n unieke kombinasie om van klassiek (viool en tjello) tot jazz (saxofoon) en rock (tromme en kitare) te bied. Volgens hom is Arco se orkes en die sangers reeds hard aan die oefen. “Om ‘n 5 uur lange program voor te berei waar die orkes en sangers deurlopend vermaak vir die aand moet verskaf, verg baie stamina van al die musikante.”

Arend vertel hoedat hulle almal dieselfde passie deel. “Om saam musiek te maak, ons gehoor op te hef, en met ‘n lied in die hart huis toe te stuur na elke vertoning. Arco Musica bestaan reeds 28 jaar. Ons groep musikante en sangers is soos een groot familie en kom gereeld elke week bymekaar vir repetisies. Ons het ook meestal oor naweke optredes,” sê Arend.

Debbie Brink, wat al die musiek vir die geleentheid verwerk het, sê dat die gehoor kan uitsien na ‘n hele paar verrassings, veral die openingsnommer, Let’s have a ball, wat sy spesiaal vir die geleentheid verwerk het.

Die groep is ook bekend vir hul vaardighede om allerlei genres uit te voer – van ligte klassieke musiek, jazz, Latyns-Amerikaans, Blues, Pop en Gospel en nog baie meer.
Die Bling and Black Tie Ball sal op 14 Februarie 2020 om 19:00 by die Ramblersklub-balsaal plaasvind. Kaartjiepryse is R370, wat ‘n 3-gang-maaltyd insluit. Die kaartjies word as onbespreekte enkelsitplekkaartjies by Computicket te koop aangebied. Indien groter groepe saam om dieselfde tafels wil aansit, kan hulle Arco Musica gerus kontak by 083-259-2226.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za