Die koskas-legende

0
1091

Die koskas-legende

“Leef eenvoudig, eet gesond, sê nee vir nonsens en glimlag.” Dít is Ina Paarman se lewensfilosofie. Sy sê sonder twyfel dat haar missie in die lewe is om mense te leer om ordentlik te kook en ordentlik te eet. Die koningin van speserye het in Bloemfontein ‘n draai gemaak om te vertel van haar wonderlike reis, vanaf haar kombuis tot in ons elkeen se koskas, en Get It se Mariné Jacobs het met haar gesels.

Die Ina Paarman-naam is reeds landswyd bekend. Van speserye tot souse, van marinades tot aftreksels – sy is die spreekwoordelike koskas-vroutjie wat almal in sjefs van formaat verander. Haar fyn bou en sprankeloë verklap min van die meesterbrein en besigheidsin wat daaragter skuil.

Ina is uitgesproke oor kos en eetgewoontes, maar beskeie oor die enorme sukses wat sy bereik het. “Ek dink as ‘n mens se produkte op mense se spensrak staan en hulle het ‘n [Paarman] resepteboek, dan kan hulle nie anders as om jou naam te sien nie,” lag sy. Sy sê dat sy werklik nooit besef het dat haar liefde vir kos tot so ‘n groot mate van sukses sou lei nie. Sy het ook nooit enige iets gedoen om haarself ‘n “household name” te maak nie. Haar liefde vir kos kom van haar ouma af. “My ma het altyd gesê dat sy daarna uitsien dat sy eendag ryk genoeg sal wees om iemand te bekostig om vir haar te kook!” lag sy.

Ina het in 1982 ‘n kookskool in haar motorhuis in Constantia begin. “Dit was maar moeilik om leerlinge te kry. Soms moes ek sommer die bure oornooi net om die klas vol te maak,” vertel sy. Sy het in hierdie tydperk haar heel eerste produk saamgestel – die gegeurde seesout wat sy van haar Ouma Anna se resep gemaak het. Sy het later kosredakteur van Femina-tydskrif geword, ‘n rubriek vir Beeld geskryf, verskeie TV-kookprogramme aangebied en haar eerste resepteboek bekendgestel. “Ek is met daardie boek van uitgewer na uitgewer en niemand wou hom uitgee nie,” sê Ina. Uiteindelik het sy en haar man ‘n verband op die huis geneem en die boek self uitgegee. “Dit was ‘n paar stresvolle maande in ons huis!”

Cook with Ina Paarman was ‘n blitsverkoper en die wins is gebruik om Paarman Foods te begin. Ina se seun, Graham, staan aan die hoof van die besigheid en het dadelik ingespring om die produkreeks uit te brei, die fabriek stelselmatig op te gradeer en die produkte aggressief te bemark. Vandag besit hulle ‘n hoogs moderne fabriek met 200 werknemers in diens. “Graham hanteer al die besigheidsaspekte en ek is betrokke by dinge soos personeelopleiding en so aan,” sê Ina. “Ons het eintlik twee duidelik afgebakende areas. Hy bestuur die fabriek en die finansies. Ek hanteer die produkontwikkeling en kommunikeer met ons kliënte, hanteer die webtuiste, reageer op navrae en daardie soort van goed.”

Ina vertel dat dit soms tot twee jaar neem om ‘n produk te ontwikkel, juis omdat die produk ‘n raklewe moet hê. Sy sê dat daar tydens die ontwikkelingsproses verskillende proe-sessies is en die resep word heeltyd aangepas en verfyn totdat die eindresultaat perfek is. “Met die sjokoladekoek, wat nou ‘n baie goeie verkoper is, was daar 150 proe-sessies voordat hy absoluut perfek was!” Sy sê dat hulle jaarliks weer deur die hele reeks proe en kyk waar verbeteringe aangebring kan word. “Dit is ‘n konstante proses van evolusie.” Nuwe produkte word egter deurentyd ontwikkel. “Kliënte is soos kinders. Hulle wil altyd nuwe speelgoed hê,” lag Ina. Sy sê dat haar kliënte mense is wat daarvan hou om avontuurlustig en kreatief te kook en daarom fokus sy daarop om gereeld iets nuuts op die rak te hê.

Ina is van mening dat Suid-Afrika tradisioneel lekker kos het, maar sê dat die konsep van matigheid nie altyd verstaan word nie. “Ons mans eet heeltemal te veel vleis en drink heeltemal te veel bier. Hulle eet hoender as hulle wil slaai hê. En hulle het pyne en skete, loop met boep-mae rond en kry hartomleidings en al hierdie tipe goed… Dit is maar net die verkeerde eetgewoontes,” sê sy ernstig.

Kosliefhebbers sal bly wees om te verneem dat ons nog lank nie die einde van Ina Paarman gesien het nie. “Almal vra altyd vir my wanneer ek gaan aftree, maar ek dink nie daar is ‘n rede vir my om af te tree nie. Ek kan my werk afskaal en beplan soos ek wil,” sê sy. Sy erken met ‘n laggie dat sy graag meer tyd vir haarself sal wil hê, maar weet dat sy ongelooflik baie het om voor dankbaar te wees. Wanneer sy eendag wel die tuig neerlê, sal Ina Paarman steeds volstoom voortgaan. “Met my span wat so uitstekend opgelei is en Graham wat weet wat hy wil hê, sien ek nie dat dit ‘n probleem gaan wees nie. Dis net daardie TLC wat ek vir die kliënte gee wat ek nog die regte mens voor moet kry!”