Die Knights skitter in Groep B

0
351
Migael Pretorius FOTO: GALLO

Die Itec Knights se 2021/22-seisoen het op ‘n hoë noot begin toe die span van Bloemfontein gekwalifiseer het vir die uitspeelrondes van die Krieket SA Provinsiale T20-uitkloptoernooi.

Dié toernooi, wat tussen 16 spanne in die A- sowel as B-afdeling gespeel word, word in Bloemfontein en Kimberley in vier groepe van vier spanne gespeel. Die Knights het verlede week saam met die Titans, KZN Tuskers en Mpumalanga Rhinos op die Mangaung Oval in die groep B-wedstryde van die toernooi gespeel.

Die Knights het bo-aan die punteleer geëindig ná goeie seges teen die Titans en die Tuskers, maar die kragmeting teen die Rhinos kon weens die goeie reën in die Rosestad nie beslis word nie.

Die kragmeting was onbeslis sonder dat ‘n bal geboul is en elkeen van die spanne het twee punte verdien. Die Knights het egter ook die kragmeting teen die Tuskers met ‘n bonuspunt gewen.

Vir die Knights was die oud-Protea, Rilee Rossouw, by verre die uitblinker met die kolf. Hy het in twee beurte 140 lopies gemoker met ‘n hoogste telling van 73*. Nog ‘n oud-Protea, Farhaan Berhardien, het goed gelyk met die wilgerlat en het 54* teen die Tuskers aangeteken.

Onder die boulers het die snelbouler, Migael Pretorius, geskitter met die bal in hand en het in twee wedstryde ses paaltjies platgetrek. Dit is tans die tweede meeste paaltjies in die toernooi. Slegs Hershell America van SWD het meer paaltjies gevat met die sewe wat hy laat kantel het in drie wedstryde.

Die Knights sal later in die maand in Kimberley in aksie wees in die uitkloprondes en aangesien hulle die wenners was van Groep B, sal hulle die naaswenners van Groep A, die Westelike Provinsie, pak.

Die wedstryd sal op 19 Okotber om 14:30 op die Diamant Oval beslis word. Die Groep C-aksie begin Vrydagoggend in Bloemfontein met die Dolphins, Noordwes, Oostelikes en Suid-Afrika o.19 wat sake uitspook. – MORGAN PIEK