‘Die Here het my heel gemaak op Wilde Als’

0
27229
Photo: Jeretha Oosthuizen

Of mens daarvoor of daarteen was, Angus Buchan se It’s Time-biddag gister op die plaas Wilde Als buite Bloemfontein was ‘n geleentheid wat die Rosestad nie gou sal vergeet nie. Bloemfontein Courant het na die geleentheid ‘n paar mense oor hul ervaring op die plaas uitgevra.

Een van die derduisende mense wat die dag bygewoon het, Yvonne-Marie Appelgryn, sê dat sy lewenslange vriende daar gemaak het – Christen vriende, opregte vriende. “Dit was ongelooflik. Mense het gesond geraak in hul stoele. God is ‘n God van wonderwerke en hy is awesome. Hy hou daarvan om wonderwerke te verrig.”

Philip Crouse van Bloemfontein sê die geleentheid was onbeskryflik. Alles was beter as wat hy verwag het. “Wat vir my uitgestaan het van hierdie hele dag is die gedeelte wat Angus Buchan verduidelik het oor die trekker en die ploeg. ‘n Mens moet op die regte pad bly en net op God fokus.”

‘n Vrou wat anoniem wil bly, sê na die biddag ervaar sy vrede in haar binneste. Volgens haar het sy weer heel geraak na ‘n baie lang stryd teen die bitter van die lewe en al die negatiewe denke wat sy altyd gekoester het. “Ek was so lank in ‘n donker gat, waaruit ek nie kon kom nie. Ek het gebid en gepleit. EK het gesmeek vir vergifnis oor wat ek al in my lewe aangevang het. Dit wou egter nie weggaan nie. Maar vandag is ek ‘n nuwe mens – ‘n opregte kind van die Here. Hy het my kom heel maak.”

Die gebedsdag het vir elke persoon iets anders beteken en het op elke persoon ‘n ander uitwerking gehad. Maar die groot doel was om saam te staan en te bid. En dit is presies wat die meer as ‘n miljoen mense gedoen het. Hulle het saamgestaan, hande gevat en gebid. – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za