Ds. Stephan van Heerden
Iemand het eendag vir ‘n jong meisie gevra: "Wie is God?" Sy het geantwoord: "Hy het die bome en die gras gemaak, maar waarvan ek nie hou nie, is oorlog. Partykeer is Hy nie regtig gaaf nie, want Hy het ‘n poppie-masjien gemaak waar ‘n mens pryse kan wen, maar ek het die hele dag probeer, baie geld ingegooi en niks gewen nie." Op ‘n gewoon kinderlike manier het sy probeer om die Here te verstaan. Sy kon nie die hele prentjie verstaan nie. Ek en jy worstel ook met die groter prentjie, veral in seer en onstuimige tye. Tog kom Jesaja en deel die volgende woorde met jou en my: "Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie." (Jesaja 45:5). Hoe kan ons die hele prentjie van God verstaan? Jy kan dit verstaan deur die Bybel stadig maar seker van vooraf deur te lees. Jy begin dit verstaan deur met ander gelowiges te deel en jou prentjie van God as die God van genade en liefde te vestig. Jy en ek bepaal dus ook die prentjie van God se liefde in ons lewe en hier speel die prentjie van Jesus aan die kruis ‘n groot rol om God se genade te kan verstaan. Die belangrike is egter dat ek en jy die geheelbeeld moet probeer raaksien!
* Van Heerden is ‘n geestelike leier by die NG Klipkerk en ‘n pastorale sielkundige.