Die hare waai weer in Bloem

0
374
Elmien du Plessis (links), eienaar van Just Nails en Monique van der Westhuizen in hul persoonlike beskermingstoerusting, reg om kliënte te bedien.

Ná verskeie debatte deur die regering en ander partye tydens die inperking oor wanneer die sektor vir persoonlikesorg-dienste, soos haarkappers en naelboetieks weer hul deure vir kliënte kan oopmaak, is hulle uiteindelik die groen lig gegee en kan Bloemfonteiners nou weer hul gunstelingsalon besoek. Bloemfontein Courant het hierdie week met eienaars van dié sektor gepraat om te hoor hoe die nuwe regulasies werk en watter uitdagings hulle daagliks in die gesig staar.

Volgens Lelanie Thies, eienaar van Barbers Inc. in Gardenia Square, is die regulasies baie tydrowend, maar hulle besef dat dit regtig noodsaaklik is. Thies verduidelik dat die grootste uitdaging in hierdie stadium die tyd is wat gebruik word om al die protokol uit te voer.

Eienaar van Barbers Inc., Lelanie Thies, en Alta Saad (regs), is opgewonde om weer kliënte te kan help.

“Die beste deel van terug wees in Barbers Inc. is om al die nuwe en ou kliënte weer te kan sien, en natuurlik ook om weer ’n inkomste te kan verdien.”

Sy sê nog iets wat alles stadiger laat verloop as voorheen, is die vereistes wat nuwe protokol stel, soos byvoorbeeld dat elke persoon ’n vorm moet voltooi voordat hy in die haarkappery instap, toerusting baie meer gesaniteer moet word, en kliënte maskers moet dra.

Die eienaar van Just Nails in Langenhovenpark, Monique van der Westhuizen, het verduidelik dat naeltegnikusse wel vantevore maskers gedra het en moes saniteer, maar die grootste verskil wat hulle in dié stadium ervaar, is dat ’n gesigskerm sowel as ’n masker nou gedra moet word, asook ’n nuwe voorskoot vir elke kliënt.

Sy sê waar hulle altyd binne-in die salon gesaniteer het, moet hulle ook nou ’n buite- saniteerstasie hê en mag hulle geen drankies meer vir kliënte aanbied nie. Sy sê dat elke kliënt se temperatuur geneem word en langs hul ID- nommer en selfoonnommer neergeskryf word.

“Ons is almal baie opgewonde om weer terug te wees. Dis ook lekker om weer ons kliënte te sien en hul inperkingstories te hoor. Die vier van ons wat in die salon werk, is ook só dankbaar dat ons weer ’n inkomste kan verdien.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za