My pa was altyd geïrriteerd met mense wat oorsee gegaan het. “Wat wil jy in ‘n ander land loop soek as jy nog nie eens jou eie land gesien het nie,” sou hy grom.
Soms het ek gedink hy’s net jaloers omdat hy dit nie self kon bekostig nie. Ek het drome gedroom van verre lande en boeke oor wêreldreise verslind. Ons was darem ‘n keer in Mosambiek (destyds nog Portugees-Oos-Afrika). Maar dit was die verste. Dit het nie regtig getel nie want ons het met die kar gery. ‘n Mens kan mos nie “oorsee” gaan met ‘n kar en karavaan nie.
Hoe het die tye nie verander nie. Vandag kerjakker elke Jannie en Sannie in ander lande rond. Dis ook niks meer snaaks vir besighede om hul personeel gereeld oorsee te stuur nie. Mét allerhande belastingvoordele natuurlik.
Maar dan is daar nog ‘n spesie: Mense wat permanent in ‘n ander land gaan bly. Hulle raak al hoe meer. Wie van ons het nie vriende of kennisse (of kinders!) wat ver weg oor die waters getrek het nie?
Ek het geen probleem met iemand wat sy heil elders gaan soek nie. Waaroor ek wel ‘n yslike klip in my skoen het, is wanneer hierdie gewese Suid-Afrikaners nie kan ophou om ons land daar uit die verte te sit en swartsmeer nie.
Dit lyk soms asof hulle net nie vinnig genoeg soggens die internet kan bestorm om iets negatiefs oor Suid-Afrika te kry nie. Dis so al asof hulle konstant rede moet vind om hulle wegvlug uit hul vaderland te rasionaliseer.
Is die gras regtig so groen daar anderkant die draad? ‘n Hanswors in die Withuis. Terroriste in Engeland. Aanvalle in Europa. Natuurrampe. Brande. Bomontploffings. Vlugtelinge. Krisis op krisis. (Én vrotsige rugby in Australië!)
In my boek het jy, die oomblik toe jy daardie eenrigting-kaartjie anderland toe gekoop het, die reg verloor om vir ons wat agterbly te vertel hoe sleg Suid-Afrika is.
Vee voor jou eie deur. Mense in glashuise moet eerder nie met klippe speel nie. – Albé Grobbelaar
Date: