Die gewoontes van ‘n welgestelde pensioenaris

0
651

Horace Terry

Dat Suid-Afrikaners ‘n baie swak rekord het as dit by spaar kom, is teen dié tyd al ou nuus. Dit is dus geen wonder dat die regering besig is om die hele aftrede-omgewing te herstruktureer nie en aftree-produkte so aantreklik moontlik te maak vir beleggers en spaarders. Tog is daar persone wat in vandag se tyd dit regkry om finansieel onafhanklik te kan aftree en dit is nie noodwendig mense wat deur hulle leeftyd welgesteld was of groot salarisse verdien het nie.
Wat het die "welgestelde" pensioenarisse dan anders in hulle lewe gedoen as die gemiddelde pensioenaris wie se begroting net nie wil klop nie? Die 2014-Sanlam Benchmark Survey klassifiseer ‘n welgestelde of finansieel gesonde pensioenaris as een wat R25 000 of meer per maand ontvang en van die eienskappe wat dié pensionarisse van die res onderskei is die volgende: Eerstens, het hulle vir gemiddeld 33.2 jaar gespaar teenoor die 29 jaar van die res van die pensioenarisse. Tweedens, het hulle ook meer uit hulle eie sak gespaar as die gemiddelde pensioenaris, ten minste 8% van hulle inkomste teenoor die 7.3% van die gemiddelde pensioenaris. Derdens, het welgestelde pensioenarisse nie net staat gemaak op hulle werkgewer se pensioenfonds nie, maar 37% van hulle het addisioneel gespaar op uittree-annuïteite. Vierdens, was die versoeking altyd daar, dat wanneer van werk verander word, ‘n persoon van sy pensioenfondsgeld neem en op iets spandeer. Met welgestelde pensioenarisse het slegs 12% van hulle toegegee aan die versoeking terwyl 21% van die gemiddelde pensioenarisse voor die versoeking geswig het. Dan het 98% van welgestelde pensioenarisse meer as een bron van inkomste gehad, teenoor die 68% van die gemiddelde pensioenaris. Laastens het 88% van welgestelde pensioenarisse gebruik gemaak van ‘n finansiële beplanner voor aftrede, en 72% het na aftrede voortgegaan om die dienste van ‘n finansiële beplanner te benut. Slegs 58% van die gemiddelde pensioenaris het ‘n finansiële beplanner voor aftrede gebruik, en ‘n skamele 34% het na aftrede een benut.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.