Die Draairestaurant kom weer!

0
2125

Lani Fouché

As jy in Bloemfontein woon en ouer as 25 is, trek jou hart ook seker op ‘n punt as jy terug dink aan die Draairestaurant. Hierdie spoggerige eetplek was bekend vir sy roter-funksie sodat jy hoog bo die grond al die hoeke van die Rosestad se liggies kon aanskou, sonder om jou stoel te verlaat. Die restaurant het ongeveer ‘n uur geneem om een rondte te voltooi.

Die Draairestaurant was vir verskeie jare onder die bestuur van ‘n Griekse familie, maar die perseel is van die begin af in die besit van die Vrystaatse departement van openbare werke. Die eetplek het in die vroeë negentigerjare sy deure gesluit weens redes onbekend aan Courant.

Maar daar is goeie nuus – die departement beplan om die restaurant weer vir besigheid oop te maak. Woordvoerder vir die departement, Winkie Direko, sê, “Die projek sal in die volgende boekjaar geïmplementeer word.”

Dié restaurant-spasie, wat bo-aan die C.R Swart-gebou in Bloemfontein is, word egter tans deur die selfoonmaatskappy, MTN, gehuur vir telekommunikasie doeleindes. Courant het vertroulik verneem dat MTN slegs ‘n klein gedeelte van die perseel gebruik, maar dat die kontrak van die departement van so aard is dat hulle die hele perseel moet huur.
 
MTN het na bewering verskeie male met die departement in verbinding getree om die huurkontrak aan te pas sodat hulle net betaal vir die gedeelte wat hulle gebruik. Direko het egter bevestig dat die departement 173 m² van die perseel aan MTN verhuur.
Met die eerste intrapslag in die restaurant is dit duidelik dat dit agterweë gelaat is, en dat behoorlike opknapwerk nodig is om dit weer oop te maak.

Die Draairestaurant is nie enig in sy soort in die land nie, maar was ongetwyfeld ‘n juweel vir Bloemfontein. In ‘n informele opname wat Courant gedoen het, blyk dit dat minstens tien jong paartjies daar verloof geraak het, en talle herroep kosbare familie-oomblikke wat in die Draairestaurant vasgevang is. Een Bloemfonteiner, Yolandi Kruger Botha, sê op Facebook: “Ons het daar geëet en toe het ons die stootwaentjie verkeerd geparkeer en toe is die kind weg…”

‘n Nostalgiese Michelle Bosch Kroll onthou: “Ja, ons het as student daar by die kroeg baie rooiwyn gedrink en ek onthou die chips met kaassous wat ons altyd bestel het.” Talle Bloemfonteiners meen hulle sal verheug wees as die Draairestaurant weer sy deure oopmaak. “Dit was baie baie lekkerrr, maak hom weer oop! En onthou asseblief ‘n speelplek vir die kinders…” vra Solange Lamprecht. Karin van Tonder sê, “Ek het nooit die geleentheid gehad nie, maar sal so graag wil!!
 
Hul kan regtig weer een oopmaak, soveel mense sal dit ondersteun!” Ander onthou nie noodwendig die lekker kos wat daar bedien is nie… “Dit was donkie jare terug. Maar die uitsig en atmosfeer was die beste. Kan nie meer onthou hoe die kos geproe het nie, maar die WYN was heerlik!” meen Maria Coetzee Groenewald, terwyl Elzette Fourie onthou: “Ons het daar geëet as ons ons varsity-dogter teruggeneem het na ‘n naweek by die huis! Wynglase was so groot soos ‘n blompot!”