Dié Don was in ander klas

0
434
1930: Australian cricketer Don Bradman (1908 - 2001), perhaps the greatest batsman ever, during an England vs Australia match in Leeds. (Photo by Central Press/Getty Images)

The Donald het geen bekendstelling nodig nie. Maar Trump kan sy ou skoene agternagooi as hy in dieselfde asem as sy naamgenoot, The Don, genoem word. Sir Donald Bradman, die grootste kolwer wat krieket nog opgelewer het, was onbetwisbaar in ‘n klas van sy eie.
Ons herdenk volgende maand daardie roemryke dag presies 70 jaar gelede toe Donald Bradman op 14 Augustus 1948 in sy heel laaste toets gespeel het. Dit was ‘n skamele twee weke voor The Don se veertigste verjaardag. Australië het teen Engeland op die Oval in Londen te staan gekom. Almal het geweet dit sou ook die groot Bradman se laaste verskyning vir sy land wees.
Bradman het in daardie stadium reeds ‘n verstommende 29 toetshondertalle agter sy naam gehad. Hy het slegs 4 toetslopies daardie oggend nodig gehad om ‘n ongelooflike loopbaangemiddelde van 100 lopies per toets te bereik.
Toe Bradman op die veld verskyn, het die skare soos een man opgestaan om hom toe te juig. Die bekende Skotse krieketskrywer, R.C. Robertson-Glasgow, het in daardie tyd geskryf dat Donald Bradman in die somer van 1948, naas Winston Churchill, die mees gehuldigde man in Engeland was.
Die Engelse span het in ‘n sirkel vir hom gestaan en wag en toe die Australiese kaptein by sy kolfkampie aankom, het hulle hom spontaan met drie hoera-krete verwelkom. Bradman het sy posisie ingeneem, die veld bekyk, en vir die eerste aflewering gewag. ‘n Doodse stilte het oor die stadion gedaal. Hier gaan vandag geskiedenis gemaak word, het almal gedink.
Maar helaas, dit was nie so beskore nie. Warwickshire se draaibalbouler, Eric Hollies, het die groot Bradman met sy tweede bal teruggestuur pawiljoen toe vir ‘n nulletjie. Soos die noodlot dit wou hê, het Engeland se kolwers heeltemal in duie gestort teen die Aussies se boulaanval. Die Engelse het met ‘n beurt teen The Invincibles verloor en Bradman kon dus nie ‘n tweede keer gaan kolf nie.
Donald Bradman, wat die volgende jaar met ‘n sirskap vereer sou word, se lopiegemiddelde in toetse vir Australië het op 99,94 bly staan.

ALBÉ GROBBELAAR