Die dae van kellies en kroeks

0
299

Kellies en Kroeks was baie gewild toe ek ’n laaitie was. Cowboys & Crooks. Niemand het gefrons oor seuntjies (én dogtertjies) wat met speelgoedrewolwers Indiane skiet nie.
Dit was lekker om soms ook ’n Indiaanse hoofman te wees. Ek het as Big Chief Walla Walla met ’n rubberbyl ’n skrikbewind gevoer tydens een spesifieke geveg in die bosse naby die gholfbaan daar op Vrede.

Tweegevegte was groot pret. Jy en jou opponent sou rug-aan-rug staan met die rollies regop vasgehou voor julle gesigte. Iemand anders sou van 1 tot by 10 aftel en met elke telling sou jy een tree vorentoe gee. Op 10 sou jy omvlieg en skiet. (Ons wou dit een keer met ons windbukse doen.

Die aftelling was al aan die gang toe my pel se ma daar aankom en met ‘n bloedstollende gil die ramp verhoed.) In die rolprent Barry Lyndon (1975) was daar ’n tweegeveg waar die opponente nie rug-aan-rug begin nie, maar ’n ent uitmekaar staan, rustig aanlê, en op die telling drie gelyk die snellers trek. Ryan O’Neal (as die karakter Barry Lyndon) se opponent slaan neer na die skote afgegaan het. Vra Ryan: “Is he dead?” Antwoord een van die helpers: “Quite dead.”

In sy boek “REGSALMANAK – 100 Stories uit ons regserfenis” vertel Gustaf Pienaar die verhaal van die kleurryke prokureur (“prokurower” sou hier beter pas), William Emil Hollard. Hollard het wye jakkalsdraaie deur die land gegooi voordat hy ’n vriend van Paul Kruger geword en as advokaat in Pretoria toegelaat is.

Hier het ’n man tydens ’n ongure egskeidingsgeding so kwaad vir hom geword, dat hy Hollard tot ’n tweegeveg uitgedaag het. Die rewolwers is, met die medewete van Hollard, stilletjies met loskruitpatrone gelaai. Maar ’n apteker het hulle ’n poets gebak en stilletjies die een rewolwer op ’n manier gedokter met ’n rooi vloeistof.

Toe Hollard die sneller trek, begin die “bloed” oor sy opponent se bors loop.
En toe die man dit sien, slaat hy flou neer. Hollard, wat al die galgtou om sy nek kon voel, het hierdie een keer op sy baadjie gekry.

Albé Grobelaar