Die Cheetahs sien uit na Nampo

0
955
The Springbok lock Lood de Jager in action againt the Stotmers. PHOTO: NICOLETTE TALJAARD

Die Toyota Cheetahs probeer die balans regkry tussen werk en speel met die span wat vandeesweek ‘n blaaskans geniet danksy ‘n loslootjie in die Super Rugby-toernooi.

Die span wil van die geleentheid gebruik maak om die seer lywe te laat rus en sal die week ook ‘n draai maak op Nampo buite Bothaville.

Die Springbok-slot, Lood de Jager, het vir Courant gesê hulle sien nogal daarna uit om die gewilde landbouskou te besoek.

“Dis altyd lekker om Nampo en die stalletjies te besoek. Daar is altyd ietsie lekker om te eet en iets mooi om te sien.

“Ons sien regtig uit daarna om Donderdag daarheen te gaan.”

De Jager erken dat sy vorm die seisoen nie die beste was nie, maar hy was egter verlede week die speler van die wedstryd teen die Kings, en met Allister Coetzee wat binnekort sy Springbokspan aankondig, voel die hemelbesem hy het sy vorm begin slaan.

“Ek is tevrede met my vertoning teen die Kings. Ek wil ‘n bietjie meer my hande op die bal kry. Ek dink ek ‘pass’ die bal te veel, ek moet die bal ‘n bietjie meer dra.

“Ek het dit die naweek gedoen, so ek sien uit na die ‘game’ teen die Stormers. Ek voel ek begin ‘n bietjie weer vorm slaan en hopelik kan ek ‘n verskil maak volgende Saterdag op Nuweland.”

De Jager is een van 13 spelers wat op Nampo ‘n draai gaan maak. Die ander sluit in Francois Venter, Oupa Mohoje, Torsten van Jaarsveld, Tier Shoeman, Charles Marais, Clayton Blommetjies, Francois Uys, Fred Zeilinga, Maks van Dyk, Tian Meyer, Michael van der Spuy en Shaun Venter.

Breier Franco Smith sal ook saam met die span wees, asook Corniel van Zyl, Charl Strydom en Sakkie van Zyl van sy bestuurspan. – MORGAN PIEK