Die brug van drome

0
349
Liesel Wessels voor die “Wall of Positivity”. FOTO: GYPSEENIA LION

Plaaslike kunstenaar en kunsonderwyser, Liesel Wessels, het haar voorgeneem om Bloemfontein weer mooi te maak met nog ’n muurskilderyprojek getiteld “Bridge of Dreams”.

Volgens Wessels was die motivering om dié projek aan te pak die sukses van die vorige muurskilderyprojek.

“Al is dit nie perfek nie, het dit beslis ’n impak gemaak. Mense het dit as ’n agtergrond vir selfies en musiekvideo’s gebruik, wat die hele doel van die projek was,” sê sy. Sy voeg by dat hierdie nuwe projek baie meer sigbaar sal wees en daarom hoop sy dit sal ’n nog groter impak maak.

Die tema is effens anders aangesien hulle onder meer verf, plakkers en sterre sal insluit wat in die donker gloei om die spasie in die nag en dag mooi te maak.

“Hierdie inisiatief het nie net ten doel om ons stad te verfraai nie, maar ook om ’n sterker gevoel van gemeenskap te bevorder deur mense van alle vlakke van die lewe te verenig in ’n prettige gemeenskapsprojek. Ons hoop is om ’n openbare ruimte wat tans verwaarloos word, te laat herleef en dit te omskep in ’n lewendige gemeenskapsruimte vir plaaslike studente en die gemeenskap in die breë,” sê Wessels.

Lede van die gemeenskap kan betrokke raak deur vrywillig te help verf, skoonmaak of die algehele sekuriteit en verkeersbeheer. Jy kan ook verf en ou kwaste skenk of selfs help om items op hul lys te skenk – van drankies vir vrywilligers tot swartsakke.

“Ons het reeds die hulp en ondersteuning van AfriForum, AfriForum Jeug en UV Eerstejaars ingeroep. So hopelik sal ons aantal vrywilligers baie meer wees, want dit is ook nogal ’n massiewe area om te verf. Elke ‘merk’ sal ’n droom of hoop vir die toekoms verteenwoordig,” sê Wessels.

Die projek vind plaas onder die Kovsiebrug in DF Malherbestraat op 11 Mei vanaf 09:00 tot 13:00. “Ons hoop dat die projek ander plaaslike skeppers, kunstenaars, argitekte of tuiniers sal inspireer om die hele Bloemfontein hul leë doek te maak sodat meer soortgelyke projekte al ons ‘lelike’ areas sal bedek en Bloemfontein ’n mooier en interessanter plek sal maak.”

Diegene wat op die dag vrywilligers wil wees of help met die borg van ’n item kan ’n WhatsApp stuur na 083-400-2864.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za