Diaree-uitbreking op Wepener weens “vuil drinkwater”

0
803

LANI FOUCHÉ

Talle inwoners van Wepener word vir diaree behandel, vermoedelik as gevolg van vuil drinkwater. ‘n Ingeligte het aan Courant gesê die dokter se spreekkamer sit daagliks vol pasiënte wat ‘n maagkwaal opgedoen het.

Die Naledi Plaaslike Munisipaliteit sê egter hulle dra geen kennis van gekontamineerde drinkwater in Wepener nie.

Dié dorp het onlangs nuushooftrekke gehaal weens rou riool wat vryelik in die strate van Wepener en die aangrensende township, Qibing, geloop het. Baie van die lekkasies is intussen deur die munisipaliteit herstel, maar die DA se Peter Frewen het vroeër gesê rou riool loop binne-in die Caledonrivier in, wat omliggende dorpe van drinkwater voorsien. Hy het geëis dat die munisipale bestuurder strafregtelik vervolg moet word weens die besoedeling van drinkwater.

‘n Inwoner, Gerrie Coetzee, het vroeër aan Courant gesê dit gebeur gereeld dat hul drinkwater bruinerig is en ‘n eienaardige reuk het. “Ons moet dit maar suiwer of water koop, want so kan ons dit nie drink nie.”
Die munisipaliteit het intussen R1.5 miljoen bestee op kontrakteurs om lekkende rioolpype te herstel.

Munisipale woordvoerder, Teboho Kholoanyane, sê egter die drinkwater word maandeliks getoets en is keer op keer skoon. Hy het bygevoeg dat hulle wel die bewerings sal ondersoek, omdat hulle dit in ‘n ernstige lig beskou.