Wydverspreide rommel naby die stortingsterrein gaan ook bymekaargemaak en verbrand word.
‘n Boer en organiseerder van die skoonmaakaksie, Hansie Swanepoel, sê slaggate in die strate word ook gevul, terwyl boere vullisdromme orals in die strate geplaas het.
Hy sê Dewetsdorp gaan weer sprankel en die skoonste dorpie in die land wees.
Swanepoel sê die plaaslike landbouvereniging in samewerking met die Naledi-munisipaliteit beplan al die afgelope vyf maande aan die skoonmaakprojek.
Hy sê in die hele beplanningsproses het hulle nie ’n verwytende vinger na die munisipaliteit gewys nie. Hulle het eerder hul hulp aangebied om die dorp op te ruim.
Die stortingsterrein is vir die afgelope 10 jaar nie onderhou nie. Rommel waai oral rond. Boere se beeste wat meer as 7km van die stortingsterrein in weidingskampe loop, vrek omdat hulle plastiesesakke vreet, sê hy.
Die skoonmaakprojek is Swanepoel se breinkind omdat hy glo dit is elke Suid-Afrikaner se “Christelike plig” om die aarde skoon te hou.
Verskeie boere van die distrik en hul werknemers het gister al begin om rommel wat oor die hele stortingsterrein versprei is met laaigrawe en trekkers en waens bymekaar te maak. Swanepoel sê meer as 4 000 mense is vandag betrokke om rommel op die dorpie op te tel. Al dié rommel sal later vanmiddag verbrand word.
Hy sê goeie nuus is dat ’n kontrakteur ook aangestel is om ‘n heining om die stortingsterrein op te sit. – Christal-Lize Muller