Devan vra ‘Een goeie rede’ met enkelsnit

0
480
Devan Venter FOTO: Selectmusiek.co.za

Devan Venter, wat naam gemaak het met die vrystelling van sy debuut-enkelsnit, Seisoene, is terug met sy nuutste, Een Goeie Rede.

Die sogenaamde misterieuse outjie uit Bloemfontein, het met hierdie enkelsnit iets unieks vir die Afrikaanse mark probeer bring. Hy vertel hy wil graag mense laat deel in dit wat hy voel wanneer hy sy musiek neerpen. “Dit is moeilik om my klank te beskryf, want my klank is my gevoelens.”

Die 19-jarige Devan se nuutste enkelsnit is op 4 Junie vrygestel en is tans beskikbaar op alle platforms, insluitend Apple Music, Spotify, Deezer, Joox, Youtube en YouTubeMusic.

Die jong musikant het op ongeveer 6-jarige ouderdom sy liefde vir musiek ontdek. “Ek het altyd skelmpies in my kamer na die tagtigs se CD’s geluister, uur na uur. Ek dink die dag toe Michael Jackson se dood oor die radio aangekondig is, het ek regtig ‘mal verlief geraak’ en van daar af elke boek, DVD en CD van hom gekry. Ek onthou goed hoedat hulle daardie dag Billie Jean oor die radio gespeel het.”

Hy verduidelik, Een Goeie Rede is geïnspireer deur wat gebeur wanneer jy en jou beter helfte bietjie vassit. Dus vra hy vir net een goeie rede hoekom mens nie maar net kan ophou baklei nie.

Devan, wat in ‘n finansiële omgewing werk, hou ook van kosmaak en saamkuier met vriende; dis nou as hy nie besig is om musiek te maak nie. Vir meer, besoek sy Instagram-blad @Devan_musiek.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za