Dertien werkers is beseer, waarvan drie ernstig beseer is, toe mynwerkers gister by die Anglo American Platinum myn se Siphumelele skag in Rustehnburg gebots het. Polisiewoordvoerder Thulani Ngubane sê die onrus het tussen die twee mynvakbonde, Amcu en NUM, ontstaan.
Na bewering het drie NUM vakbondverteenwoordigers by die myn opgedaag om hul vakbondkantore terug te eis. Ongeveer 1000 werkers het hulle met pangas en skerp voorwerpe aangeval. "Hulle is deur ‘n skare van omtrent 1000 ander werkers gekonfronteer wat na bewering aan Amcu verbind is," het Ngubane gesê. "Die skare het hulle aangeval en dit is toe dat die mynsekuriteit ingetree het en die skare met rubberkoeëls uiteengejaag het. Dertien mense is beseer." Ngubane sê dat die polisie sake van poging tot moord, aanranding en openbare geweld ondersoek.
Intussen het Noordwes premier, Thandi Modise, die onrus by die myn ten sterkste veroordeel. Sy het gister gesê dat dringende ingryping nodig is om nog ‘n bloedbad soos Marikana te voorkom. Op 16 Augustus verlede jaar is 34 mynwerkers dood en 78 beseer toe polisie op ‘n groep stakende werkers losgebrand het. Ngubane het vanoggend gesê dat die situasie by die myn tans kalm is.






