Derde keer skeepsreg vir Annandale

0
918
RUFUS BOTHA

Na sy derde probeerslag in vanjaar se SA National Cross Country Cup #3 bergfietsryreeks, het die Bloemfonteinse jaer, Francois Annandale Saterdag in Nelspruit die derde van die bogenoemde reeks in die afdeling vir jeugseuns oorwinning gesmaak.

Nadat Annandale (Grey) by die eerste byeenkoms in die reeks in Port Elizabeth tweede was en by die tweede byeenkoms (Pretoria) “slegs” derde kon eindig, het sy vertoningsgrafiek ‘n duidelike afwaarste peil getoon. Dit was kommerwekkend, maar hierdie taai fietsryer het nie dat dit hom onderkry nie.

Annandale was in Nelspruit uit die staanspoor in ‘n titaniese stryd met twee van sy aartsvyande, Chris du Plessis en Joshua de Freitas betrokke. Slegs vier sekondes kon dié drie na die eerste van vier rondtes skei en al rede was dat hulle agtermekaar in trefafstand gejaag het. Du Plessis was eerste na een rondte in 14:46.

Toe die tweede rondte aanbreek was dit ‘n verwoestende Annandale wat ‘n suksesvolle wegbreekpoging bewerkstellig het en hy was die enigste ryer uit 27 wat dié rondte onder 15 minute kon afblits. Hy het dit ook gerieflik gedoen toe hy (14:49) vir sy tweede rondte op die uitslagkaart ingeskryf het en ‘n moeilike teiken daargestel het vir enigeen wat hom wou inhaal.

Hy het die derde rondte weer die vinnigste tyd (15:10) afgetrap, maar dit was gelyk aan De Freitas se tyd van 15:10.

Dit was egter Du Plessis wat die gevaarligte vir Annandale in die laaste rondte laat opvlam het. Annandale het die laaste rondte steeds in ‘n skaflike 14:58 afgelê, maar Du Plessis het bloed geruik en met ‘n verbete eindpoging die laaste rondte in die vinnigste tyd (14:40) van die dag afgeblits.

Dit was egter te laat en Annandale het met die louere weggestap met ‘n tyd van 59:43. Du Plessis se silwermedaljetyd was 59:50 – slegs sewe sekondes agter Annandale. De Freitas, een van die groot gunstelinge om oorwinning te smaak moes met die derdeplek tevrede wees in ‘n beskeie 1:00,57, en dit is meer as ‘n minuut agter Annandale en Du Plessis.