Departement Waterwese identifiseer munisipaliteite met waterprobleme

0
1122

Agt plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat se drinkwater-voorsieningstelsel het dringende aandag nodig. Dié stelsels is nou geoormerk vir ingryping deur die nasionale departement van waterwese en sanitasie. Minister Nomvula Mokonyane het op ‘n vraag in parlement gesê ‘n lys van 250 plaaslike munisipaliteite – wat dringende watervoorsieningsprobleme ondervind – is landwyd saamgestel. Baie van die dorpe in die Vrystaat wat reeds vir dae sonder water moet klaarkom as gevolg van die knellende droogte en verouderde  infrastruktuur vorm nie deel van die agt munisipaliteite nie. Vrystaat premier Ace Magashule het die provinsie maande gelede tot ‘n droogte gesteisterde gebied verklaar. Mokonyane sê haar departement het begin om inspeksies by munisipaliteite landswyd uit te voer om die omvang van die probleem vas te stel en ‘n taakspan is reeds in sommige provinsies saamgestel om waterprobleme aan te spreek. Intussen het haar departement ‘n ooreenkoms met die Deense regering gesluit in ‘n poging om die waterkrisis in die land op te los. Sy sê ingevolge die ooreenkoms gaan daar dringend gekyk word na ‘n langtermyn oplossing. – Cathy Dlodlo