Departement sal NK boere help

0
235

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en die Provinsiale Departement van Landbou in die Noord-Kaap het omvattende begrotings vir die ondersteuning van die Landbou-steunprogram (Casp) herprioritiseer.

‘n Bedrag van R30 miljoen is opsy gesit om landbouvoer te verskaf aan boere wat geraak is deur die vreesaanjaende droogte in die provinsie.

Dit volg nadat Noko Phineas Masipa, ‘n DA-parlementslid, navraag gedoen het oor die maatreëls van die departement om die finansiering van droogtehulp aan boere in die provinsie te bespoedig, terwyl hulle wag vir die aankondiging van die provinsie as ‘n rampgebied.

Masipa meen boere is so geaffekteer dat dat hulle nie lenings kan kry om voer aan te koop nie, wat daartoe lei dat plaaswerkers die gevaar loop om hul werk te verloor.

Die departement het verder bygevoeg dat as deel van hul plan, beoog hulle om die bestaande voerproduksie in die provinsie te verhoog, wat die aanplanting van hooi en lusern deur boere langs die Oranjerivier insluit. Hulle het ook die versekering gegee dat boorgate gesink is vir die verskaffing van water.

Die departement het verder bekend gemaak dat dit met die Nasionale Sentrum vir Rampbestuur (NDMC) werk om die proses om ‘n staat van provinsiale droogte-ramp te verklaar te bespoedig om boere te help om beter te onderhandel met finansiële instansies.

Die departement sê ook dat ‘n span wat onder leiding is van die NDMC tans besig is met ‘n verifikasie-oefening in die provinsie om te verseker dat die Wet op Rampbestuur nagekom word. Die NDMC sal na die verifikasie-oefening ‘n provinsiale toestand van droogte-rampe klassifiseer.

OFM-nuus/Elsabé Richard