Denemarke en Lesotho soek óók berugte Deen

0
1243

Die Deense burger wat vandeesweek sy borgtogaansoek in die Bloemfonteinse Landdroshof laat vaar het, is blykbaar reeds in sy geboorteland gevonnis en 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming is ook in Lesotho teen hom uitgereik.
Dit is een van die hoofredes waarom Peter Frederiksen sy borgtogaansoek laat vaar het. Sou hy dit nie doen nie, sou hy eers aan Denemarke en daarna aan Lesotho uitgelewer moes word. In plaas daarvan verskyn hy nou weer op 7 Desember in die hof op aanklagte van seksuele aanranding, die besit van menslike weefsel, asook oortreding van die gesondheidswet.
Hy is ook die week aangekla weens die besit van kinderpornografie en die vervaardiging van pornografie. Sy regsverteenwoordiger, Adriaan van Rensburg, het aan Bloemfontein Courant gesê daar is besluit dat sy kliënt sy borgtogaansoek laat vaar nadat hy (Van Rensburg) die dossier van die Departement van Openbare Vervolging gesien het.
Na wat verneem word, is die Deen van Langenhovenpark blykbaar reeds in Denemarke tot ses maande gevonnis vir die besit van onwettige vuurwapens en word hy in Lesotho gesoek vir die aanranding op sy vrou. Hy besit 'n wapenwinkel in die stad.
Hy is twee weke gelede in hegtenis geneem nadat die klitorisse van sewe vroue in die vrieskas van sy Langenhovenpark-meenthuis gekry is. Sy vrou (van wie hy intussen geskei is), het hom by die polisie verkla nadat sy op 'n vorige geleentheid huis toe gestuur is toe sy om hulp by die polisie aangeklop het. Die saak het egter verlede week 'n ander wending geneem toe 'n vrou na vore gekom het en gesê het dat sy die Deen gevra het om haar klitoris te verwyder om kulturele redes.
Die beskuldigde se saak word verder bemoeilik deur die Departement van Binnelandse Sake se mening dat hy Suid-Afrika op 'n bedrieglike wyse binnegekom het. Die departement wou sy permanente verblyfreg tydens sy hofverskyning terugtrek.
"Indien ons Maandag borg sou kry, sou hy in elk geval net gearresteer word, want tegnies sou hy onwettig in die land wees. My instruksie was om borg te laat vaar," het Van Rensburg bygevoeg.
Die staat, onder leiding van Jacques Potgieter, sou borgtog teengestaan het. Daarby het die Vrystaatse tak van die ANC-Vroueliga reeds verlede week (met sy tweede verskyning) kapsie begin maak teen sy borgtogaansoek en was hulle weer, net soos verlede week, in hordes by die hof om hul misnoeë te kenne te gee.
Courant verneem sodra die Deen in Suid-Afrika gevonnis word (daar is twee minimum vonnisse van 15 jaar), hy dit sal moet uitdien, waarna hy aan Denemarke en daarna aan Lesotho uitgelewer sal word.
Intussen duur die ondersoek na die Deen se misdrywe voort en bly hy in aanhouding in die Grootvlei-gevangenis buite die stad. – Owen Kock
owen@centralmediagroup.co.za