Deel van die gesin

0
1964

Familie en gesinne is só kosbaar. Daar is tye wat groot vreugde bring, maar tog is daar ook seer oomblikke in gesinne. Soms spat hulle uitmekaar, leef bymekaar verby en elkeen leef sy eie lewe.
Die tye wanneer gesinne bymekaarkom bied altyd interessante oomblikke. Wanneer hulle mekaar sien, besef hulle dikwels hoe duidelik oorerflike persoonlikheidseienskappe en gelaatstrekke uitstaan. Patrone en maniere van praat leef voort van geslag tot geslag.
Die grootste ontdekking is egter dat ons almal deel is van ‘n huisgesin – die huisgesin van God. Daarvan lees ek in Efesiers 2:19. Ons behoort aan mekaar – ons het sekere eienskappe gekry en is verbind aan mekaar.
Dit is nie gekoppel aan afkoms, status of rykdom nie. Nee, dit is ‘n band wat oor grense heen gelowiges aan mekaar bind. Ons is een en ons is deel van die huisgesin van God. Die teks beskryf dit ook: “…dat as een lid ly, ly al die lede van die gesin…” Dit is wat ons bind, mooi en slegte tye! Ons is een in Christus!

DS STEPHAN VAN HEERDEN