Debuutalbum met ’n verskil

0
353
Werner FM

Die debuutalbum, The story of Adam and If, is iets met ‘n verskil. Dit is volgens Werner Schmidt (43), beter bekend as Werner FM, ‘n musikant van Mangaung wie se skeppende sang en verhoogoptrede besig is om saam met sy loopbaan in die afrigting-, finansiëledienste- en kommunikasie-omgewing te groei.

Die album bevat tien oorspronklike, moderne folk songs, wat hier en daar met rock, reggae en world music deurspek is. Schmidt hou daarvan om musiek te skryf met sielvolle, speelse lirieke en melodieë wat in die geheue vassteek, en dit lei weer tot ‘n goeie luisterervaring. Die titel is deur die lewe en die wye verskeidenheid keuses wat mense op hul lewenspad ervaar, geïnspireer.

Die naam Werner FM het ontstaan toe Schmidt ‘n paar jaar gelede probeer radio-DJ speel het. “Dit het nie gewerk nie, toe besluit ek om my eie ‘radiostasie’, te word wat my eie inhoud as Werner FM ‘uitsaai’,” vertel Schmidt. “Ek het probeer om op ‘n eerlike wyse uitdrukking te gee aan die stem in my hart, die manier waarop ek die lewe se inspirasie ervaar, en mense kan betekenisvolle, sielvolle lirieke verwag, met baie woordspel en melodieë wat onthou sal word en waarna maklik geluister kan word,” voeg hy by.

Die album is beskikbaar aanlyn en kan gekoop word by alle aanlyn-winkels soos iTunes, Apple Music, Google Play, Amazon, Spotify, Deezer. Die album kos R100 en kan bestel word by Stories@wernercreates.com, of deur 064-141-4341 te skakel. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za