Dealesville-laerskool begin op hoë noot

0
1133
Dealsville-laerskool se nuwe skoolbus met die name op van persone/ besighede wat ‘n bydrae gemaak het.

Vir die skoolhoof van Dealesvillelaerskool, Johann Smit, was dit ’n baie groot verligting toe hulle op 8 Februarie ’n bussie kon aanskaf om leerders uit die ’n plakkerskamp in Bloemfontein te vervoer.

Dit nadat Bloemfontein Courant voorheen berig het oor die 30 skoolkinders wat voortaan van Maandag tot Vrydag op Dealesville sal skoolgaan en by die skoolkoshuis gaan inwoon. Smit vertel hoedat hulle ’n redelike bedrag geld gekort het en van die skool se kant af moes afknyp en bysit, maar dat hulle baie ondersteuning van die gemeenskap gekry het.

“Die Guardian and Angel-groep, die mense wat ek op Facebook gekry het, het baie gehelp. Of mense nou ’n groot of ’n klein bydrae gemaak het, ons wil net sê dat ons dit raaksien en dat ons dit só waardeer.” Volgens Smit het hulle sedert Oktober 2020 gewerk aan hierdie projek en een van die belangrikste aspekte waaraan hulle aandag moes gee, was ’n bussie om die leerders te vervoer asook die koshuiskamers waar hulle gehuisves sou word.

Hy vertel hoedat mense van so ver as Kathu in die Noord-Kaap hul projek ondersteun het en vir elke leerder ’n duvetstel en toiletware geskenk het. “Ons het ook boeke en skryfgoed van ’n groothandelaar in Bloemfontein gekry.” Smit sien hierdie jaar die meeste daarna uit om ’n verskil te maak in hierdie leerders se lewens.

Die uitvoerende hoof en stigter van die Guardian and Angel-organisasie, Hester Bekker, het aan Bloemfontein Courant vertel hoe absoluut wonderlik dit vir hulle was om te kon help met hierdie projek. Op die vraag of sy gedink het dit moontlik sou wees, was haar antwoord, “Vir seker het ek gedink dit is. Ek het dit ’n saak van gebed gemaak. Ek het ook geweet dat die gemeenskap ons sal ondersteun.” Bekker sê elke persoon/ besigheid wat ’n bydrae gemaak het se naam of logo is op die bussie.

“Ons het ook harte opgesit waarin daar ‘anoniem’ staan vir persone/ besighede wat nie genoem wil word nie, want hul bydrae beteken ook vir ons ongeloofl ik baie.” Sy is dankbaar dat dié projek vir die jaar 2021 sal wees.

“Ek vra dat mense aansluit by ons Klub 500 om die kinders deur die jaar te ondersteun.”

Vir meer inligting hieromtrent, kan Bester gekontak word by 072- 423-6277 of by hesterbekker25@ gmail.com

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za