De Sousa het groot planne vir MCCI

0
877

Maricelle Botha

“Ons mag nie uitveërs gehad het nie, want jy moes van die begin af reg skryf.”  Só het Nancy de Sousa, president van die Mangaung Kamer van Handel en Nywerheid (MCCI), grootgeword en dit is hoe sy elke dag aanpak. Sy vertel dat sy niks in die lewe doen as sy dit nie 110% kan doen nie. “Dit is nou maar my geaardheid. Ek is ongelooflik passievol oor dit waarin ek glo. As ek na ‘n Cheetahwedstryd gaan is ek oranje geverf,” lag sy.  De Sousa is al sedert 2009 aan die stuur van die MCCI en hoewel sy erken dat dit nie altyd ewe gemaklik in die presidentstoel is nie, dit die groter doel, om werkloosheid in die Vrystaat hok te slaan, is wat haar motiveer.

Vanjaar beplan die MCCI verskeie groot projekte. Die eerste is ‘n Kleinsake-ontwikkelingsentrum (incubation centre). De Sousa sê dat hulle hoop om teen April vanjaar die eerste groep kleinsake-ondernemings in te neem by dié sentrum. “Hierdie is nie soos die eenkantoor-ontwikkelingsentrums wat ek tot dusver teëgekom het nie. Nee, hier moet betrokke besighede hul twee jaar tot die program verbind sodat ons kan seker maak dat hulle wel op hulle voete gekom het en dat hulle kan aangaan,” vertel sy. Sy sê dat ons die Vrystaat se ekonomie slegs kan verbeter deur te fokus op kernvaardighede. Die MCCI se ontwikkelingsentrum sal spesifiek fokus op vervaardiging, produksie en ligte ingenieurs waaronder bouers en messelaars tel. “Ons soek mense soos elektrisiëns, loodgieters, mense wat kan help met die oprig van sonpanele, ensovoorts.”

‘n Groep van 20 tot 30 mense sal op ‘n keer by die sentrum ingeneem word. Hulle sal dan deur vennote van die sentrum wat self in ‘n spesifieke veld spesialiseer, opgelei word. Die MCCI se fokus val op die hele Vrystaat. “Ons wil hierdie mense vaardighede leer. Ons sit nie mense in hierdie ontwikkelingsentrum om sertifikate te kry nie; hierdie is om werklik mense wat kleinbesighede het of dit wil begin, te help om hul besighede aan die gang te kry,” vertel sy. De Sousa onderstreep dat hierdie sentrum vir almal is en nooi kleinsake-ondernemings uit om deel te word van hierdie projek. Belangstellendes kan ‘n e-pos stuur na admin@bcci.co.za of na president@bcci.co.za.

Ander projekte waarby sake-ondernemings vanjaar betrokke kan raak is ‘n ekspo waar plaaslike produkte ten toon gestel sal word en inligting ten opsigte van internasionale handel met Lesotho, Namibië en Botswana bespreek sal word. Verder is daar reeds onderhandelings met ‘n paar groot firmas soos Harmony, Transnet, ens., om plaaslike produkte aan te koop eerder as produkte uit ander provinsies.  "Ons gaan binnekort ‘n Trade Point-kantoor by ons kantore launch. Dit sal die enigste Trade Point in sentraal SA wees," voeg sy opgewonde by. Die doel van hierdie kantoor is om die deelname van kleinsake-ondernemings in internasionale handel te bevorder deur hulle die nodige ondersteuning te bied.
Indien jy in enige van die die MCCI se projekte belangstel kontak hulle by admin@bcci.co.za.