De Oude Kraal kraai weer koning

0
1279
De Oude Kraal spog vir die 13de keer met ’n American Express Fine Dining-toekenning. Van links is Marie-Louise Nel (dogter van die eienaars), Marie en Gerhard Lombard (eienaars van De Oude Kraal).

De Oude Kraal Country Estate en Spa is nie net bekend vir sy uitsig, natuursoon, vriendelike diens, heerlike kos en ‘n wonderlike spa nie, maar kan ook vir die 13de keer spog met ‘n American Express Fine Dining-toekenning sowel as ‘n Platinum Diners Club-toekenning.

Die American Express Dining Awards erken en vereer reeds vir 20 jaar die unieke kookkuns van die beste eetplekke in die land.

De Oude Kraal, ‘n spogbestemming sowat 40 km buite die Rosestad, het die American Express Fine Dining-toekenning op Maandag 8 Oktober ontvang. Een en tagtig restaurante in Gauteng en Kaapstad het ook die toekenning ontvang. Van hulle het ook die Black Apron-toekenning ontvang, wat verdien word deur die aantal jare wat hulle die American Express-toekenning ontvang het.

De Oude Kraal het twee sterre verwerf omdat hy reeds vir meer as 10 jaar die American Express-toekenning ontvang het en is beloon met die Black Apron-toekenning.

“Ons het so pas ons dertiende agtereenvolgende American Express Fine Dining Top 100-restaurante in SA-toekenning ontvang en is die enigste in die Vrystaat. Dié toekenning word verwerf wanneer jy deur ‘n onbekende verteenwoordiger, wat jou as anonieme gas deur die jaar besoek, genomineer word,” het Marie-Louise Nel, dogter van die eienaars, verduidelik.

Gehard Lombard, een van die eienaars, het ook ‘n Platinum Diners Club-toekenning ontvang vir sy wynlys, wat ook ‘n enigste in die Vrystaat is. Daarmee saam het hy ‘n Platinum-toekenning van die South African Wine Index ontvang vir sy wynlys.

“Dit is ‘n groot eer en voorreg om erkenning op nasionale vlak te ontvang in die restaurantbedryf en om met die bestes in Suid-Afrika vergelyk te word. Dit is ‘n beloning vir ons harde werk en toewyding om regtig amazing kos te gee en ook eie te bly aan ons Vrystaatse produkte en dit op ‘n fynproewerwyse voor te sit,” het Lombard gesê.
“Dié jaar het ons ook die voorreg gehad om die hoogste South African Wine Index-toekenning vir van die beste restaurantwynlys te ontvang.”

Die American Express Fine Dining-toekenning is meer as net ‘n seremonie; dit is ‘n viering wat hulde bring aan Suid-Afrika se diverse en kleurvolle karakter soos gesien in sy kulinêre prestasies. Die toekennings is nie net om kulinêre uitnemendheid te erken nie nie, maar is ook gerig op die eetplekke wat nuwe en opwindende tendense volg en sodoende bestaande konsepte van eetgewoontes herdefinieer.

Wenners van die restauranttoekennings is bepaal volgens konstantheid, gehalte, diens, voedselvoorlegging en die onderliggende vereiste om ‘n American Express Card-aanvaarde restaurant te wees. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za