De Klerk vir groot eerbewys benoem

0
656
Miné de Klerk tydens gewigstoot vir vroue by die o.20 Atletiek Wêreldkampioenskap in Cali, Colombia. FOTO: WÊRELD ATLETIEK

Die steratleet in gewigstoot en diskus, geregistreer by die Universiteit van die Vrystaat, Miné de Klerk, is benoem vir ‘n gesogte Wêreld Atletiek-eerbewys ná nog ‘n uitstaande seisoen waarin sy haar stem deeglik dik gemaak het.

Sy studeer tans by die Universteit van Oregon in Amerika.

Die 19-jarige De Klerk, wat oorspronlik vanaf Welkom in die Vrystaat afkomstig is, is een van vyf atlete van regoor die wêreld wat benoem is vir die Opkomende Vroueatleet van die Jaar-eerbewys.

Dié tweemalige onder 20 wêreldkampioen in gewigstoot is vir die toekenning benoem saam met die Keniaanse paar Jackline Chepkoech en Faita Cherotich, asook Kerrica Hill van Jamaika en Adriana Vilagoš van Serwië.

Chepkoech en Cherotich spesialiseer albei in die 3000m hindernis, terwyl Hill ‘n 100m-naelloper is en Adriana Vilagoš aan spiesgooi deelneem.

De Klerk het in Augustus, tydens die o.20 Atletiekkampioenskap in Cali, Colombia, haar wêreldtitel in die gewigstoot vir vroue verdedig met ‘n gooi van 17.17m. Sy het ook die Suid-Afrikaanse nasionale o.20 diskusrekord met ‘n gooi van 53.54m gebreek, en die bronsmedalje in Cali ingepalm.

In 2021, tydens die Wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia, het sy die wêreldtitel vir die eerste keer met ‘n gooi van 17.40m gewen. In die diskus het sy ‘n Afrikarekord losgegooi met ‘n poging van 53.50m vir die silwermedalje.

De Klerk het vanuit Eugene, Oregon, aan Bloemfontein Courant gesê dat dit ‘n eer is om benoem te word vir dié eerbewys.

“Ek is so bevoorreg om vir so ‘n toekenning genomineer te word. Ek het hard gewerk om alles te bereik wat ek tot dusver het, en dit is te danke aan God dat Hy my die talent gegee het om dit te bereik.”

Sedert die aanvang van die toekenning in 2005, het geen Suid-Afrikaner tot nog toe daarin geslaag om die toekenning te wen nie. – MORGAN PIEK