De Beer se Pluimbal-toekoms met rose besaai

0
2217
RUFUS BOTHA

Vrystaat-pluimbal se status as beste provinsie in Suid-Afrika in dié Olimpiese Spele-sportsoort bly ongeskonde. Inteendeel, dit groei met rasse skrede en gemeet aan hoe jonk die sterre van die provinsie wat reeds op senior vlak amok maak is, gaan hulle nog lank die boonste plek behou.

Wat jou egter nog meer opgewonde maak is die bykans ondenkbare vertoning van die 11-jarige Megan de Beer van die Rosestad. Waar ander kinders van De Beer se ouderdom hulle besig hou met TV-speletjies, is hierdie talentvolle pluimbalster gereeld op die baan om haar vernuf te verbeter.

De Beer het by die onlangse Suid-Afrikaanse kampioenskap (SA’s) vriend en vyand verras toe sy die onder 15-enkelspeltitel gewen het, én dit teen spelers ‘n volle vier jaar ouer as sy.

Die speler wat egter die voortou geneem het in voortydige (ouderdom) nasionale titels teen ouer deelnemers, was die Vrystater en Olimpiese Spele-deelnemer, Annari Viljoen, wat dit in die vroeë 2000’s gedoen het.

‘n Tekort aan puik jong spelers in Vrystaat-pluimbalgeledere is daar beslis nie. By die einste SA’s vir onder 15’s het Daniël Steyn goud gewen in die dubbelspel. Nog ‘n Vrystater, Stefan Coetzee, het goed vertoon deur na die eindronde van die dubbelspel deur te dring.

Intussen kon die Vrystaat se voorste seunspeler, Daniël Coetzee, nie sy spanmaats help om die algehele SA-titel in die onder 15-ouderdomsgroep te beklink nie. Dié voorslagspeler het die Reënboognasie by die Afrika-kampioenskap verteenwoordig waar hy die silwermedalje (o.15-enkelspel) verower het.

Die diepte in pluimbal in die Vrystaat – meer spesifiek in Bloemfontein – is onderstreep toe die provinsie se B-span (o.15) wat tweede geëindig het en slegs deur Boland (A-span) getroef is.