Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ‘n streng waarskuwing aan diere-eienaars gerig oor die negatiewe uitwerking wat vuurwerke op veral huis- en wilde diere het.
‘n Senior inspekteur by die DBV in Bloemfontein, Reinet Meyer, sê wanneer vuurwerke afgevuur word, raak diere angsbevange, en kan hulle van skok doodgaan.
Sy vra dat lede van die publiek dink voordat hulle vuurwerke afvuur, en die nodige maatreëls in plek stel om die diere daarteen te beskerm.
Die polisie waarsku dat lede van die publiek strafregtelik vervolg kan word indien hulle vuurwerke op ‘n ontwettige wyse gebruik of verkoop.
Die DBV stel die volgende maatreëls voor wanneer vuurwerke afgevuur word:
- Maak seker dat jou troeteldier ‘n naambandjie dra, omdat diere geneig is om weg te hardloop wanneer hulle skrik.
- Gaan na jou veearts en kry vir die diere kalmeerpilletjies.
- Indien moontlik, bly tuis. As jy nie tuis kan wees tydens ‘n vuurwerkvertoning nie, sit jou diere in ‘n veilige, toe vertrek.
- Maak die gordyne toe en sit jou radio aan wanneer vuurwerke afgevuur word.
- Omring jou troeteldier met bekende items, soos speelgoed en kussings.
- Gee vir jou troeteldier ‘n gesonde ete om hom/haar lomerig te maak.
- Vra jou veearts vir raad.
Mark Steenbok/OFM-nuus