DBV sien afname in vuurwerke

0
1247

Terwyl die mensdom jaarliks uitsien na oujaarsaand om lekker te kuier, is dit die tyd van die jaar waarna diere gewoonlik die minste uitsien – hoofsaaklik weens die gewoonte onder sommige mense om vuurwerke in woongebiede af te vuur.

Mense dink nie regtig aan hul viervoetige vriende of ander diere wanneer hulle besluit om vuurwerke af te vuur nie. Hoewel daar al talle kere van inwoners gevra is om nie vuurwerke af te vuur nie, is daar steeds ‘n handjievol wat daarmee volhou.

Bloemfontein Courant het met Reinet Meyer, senior inspekteur en bestuurder van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), gesels oor hoe dinge verloop het tydens vanjaar se nuwejaarsvieringe.

“Die DBV het ervaar dat daar vanjaar ‘n afname in klappers en vuurwerke was, al het ons steeds baie klagtes ontvang. Van die redes vir afname kan wees die feit dat ons oral bewusmaking gedoen het en mense begin besef het hoe nadelig die gedrag vir diere is. Mense besef ook dit is onwettig en hulle kan ‘n vet boete in die oë staar,” het Meyer verduidelik.

Die DBV het ‘n paar ernstige gevalle hanteer, insluitent ‘n voorval waar ‘n hond deur ‘n glas skuifdeur gehardloop het omdat hy geskrik het. “ ’n Staffie het homself ook erg beseer nadat hy deur tralies van ‘n venster probeer klim het.”

Meyer sê hulle het ook op talle dooie voëltjies afgekom.

“Dit was ‘n baie besige tyd vir ons en hoewel daar ‘n afname in die afvuur van klappers was, was dié wat afgevuur is, nog baie nadelig vir die diere. Ons het ook baie diere ingekry wat die pad gevat het of verlore geraak het.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za