DBV red honderde diere in die vakansie

0
396
Ses Engelse Pointer-Boerboel-hondjies wat onlangs deur die DBV aangeneem is.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het oor Desember byna 900 rondloperdiere ingekry en ‘n verdere 200 in Januarie.

Senior-inspekteur Reinet Meyer vertel hoe daar ‘n geweldige toename in rondloper-diere was tydens die afgelope feesseisoen. “Ons vra die publiek om, indien hul diere verlore geraak het die afgelope tyd, asseblief dadelik by ons te kom kyk,” sê Meyer.

Meyer het ook lede van die gemeenskap, wat belangstel om ‘n troeteldier aan te neem, genooi om die organisasie te kom besoek. “Die publiek moet ons asseblief kom besoek met ‘n identiteitsdokument en bewys van adres. Hulle vul dan ‘n vorm in en ons gaan doen ‘n huisbesoek. Indien hulle suksesvol is, word die dier gesteriliseer, ingeënt, ontwurm, en ‘n mikroskyfie ingesit. As alles klaar is, teken die nuwe eienaars ‘n kontrak en die dier kan huis toe gaan,” sê Meyer.

Volgens haar is dit ook baie beter om troeteldiere aan te neem omdat al die bogenoemde teen ‘n minimale koste gedoen word. “Ons het baie pragtige honde en katte om aan te neem,” sluit Meyer af.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za