DBV bring Kersvreugde in Bfn

0
3009
Lillian Schmidt en Nonnie Carreira vertroetel een van die diere by die Bfn-DBV. Fotos: Pierce van Heerden

Kersfees is ongetwyfeld vir meeste mense die wonderlikste tyd van die jaar. Daar word met kinderlike verwagting deur oud en jonk uitgesien na dié spesiale dag, opwinding hang in die lug en liggies skyn helder by die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) waar Bloemfontein Courant besoek gebring het aan die bestuurder en senior inspekteur, Reinet Meyer, en haar elfie-helpers wat uit hul pad gegaan het om die feesseisoen se liggies helder te laat skyn.

Werkers van die DBV saam met vrywilligers.

Die jaarlikse DBV-Kersliggievertoning in Bloemfontein is nie net daar vir inwoners om te geniet nie maar dien ook ‘n veel groter doel aangesien alle bydraes aangewend word vir diereversorging en hulpverlening. Met Bloemfontein Courant se besoek om die “liggies te gaan kyk” is ons begroet deur ‘n toneel uit ‘n Kersfeesfliek, vrolik laggende kinders wat die pretritte en poppespel geniet saam met hul ouers, en families wat kwaliteittyd saam deurbring.


Volgens Magdel Coetzee, ‘n vrywilliger by die DBV, het sy besluit om te help by die DBV aangesien sy voel daar soveel gedoen word vir elke dier in nood, sonder diskriminasie of ‘n keuse van wie en wat gehelp word. “Kersfees is vir my ‘n tyd om saam met jou familie en vriende deur te bring en my Kerswens is vreugde, liefde en genade vir elkeen,” sê sy.
Nog ‘n besoeker, Kim Maritz, wat al die pad van Kimberley kom, het aan Courant gesê dit is die tyd om te gee, veral aan diegene wat dit nodig het. “My wens is nie net vir Bloemfontein nie, maar vir die res van die land, dat elke mens ‘n vrede- en vreugdevolle feestyd sal ervaar. Ek dink die idee van die DBV is fantasties, dis ‘n wonderlike geleentheid vir families om saam hierheen te kom.”


“Kersfees is ‘n tyd vir familie, vir liefde, vir saamkom en God se liefde vir ons en die feit dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, te vier. My wens is eenvoudig: net ‘n bietjie meer liefde en welwillendheid teenoor elkeen,” sê Louise Schmidt.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za