Dapper jong seuns ‘take a leap’ in Namibië

0
719
Christopher met sy pa Jackie Schoeman. FOTO: VERSKAF

Valskermspring is ’n baie adrenalien-gedrewe sportsoort vir diegene wat op soek is na daardie soort avontuur. Dit is egter nie dikwels dat jy ’n nege- of ’n agtjarige teëkom wat dapper genoeg is om die sport aan te pak nie.

Christine en Jackie Schoeman, die eienaars van Skylife Adventures, is ma en pa vir hierdie dapper  kleintjies, Christopher (9) en Jack (8).

Volgens Christine spring hul pa, Jackie, al vandat hy 16 jaar oud is, so dit is net natuurlik dat  sy kinders op ’n jong ouderdom betrokke geraak het.

“Met hulle wat op die lughawe grootgeword het en verskillende lughawens besoek het gedurende hierdie tyd, het hulle baie vroeg besluit dat hulle dit ook self wil doen,” sê Christine.

Aangesien Christopher en Jack albei hul ma en pa sien deelneem het aan valskermspring, kon hulle nie wag totdat hulle dit self kon doen nie. Hierdie geleentheid het vroeër as wat verwag is in

Swakopmund, Namibië, opgeduik. “In Suid-Afrika is die ouderdomsbeperking 16 jaar vir iemand om enige valskermspring-opleiding te ondergaan, maar in Namibië het hulle ons bietjie grasie gegee aangesien die reëls daar  bietjie anders is.

’n Paar ander faktore wat daartoe bygedra het, is dat hul pa, wat self ’n tandem-instrukteur is, die sprong met hulle kon doen,” sê Christine.

“Hulle is altwee lekker groot boerseuns, hulle kon gemaklik in die harnas pas, en met die grasie van die eienaar van Ground Rush Adventures in Swakopmund, het die kinders hulle oortuig dat hulle

reg is daarvoor,” voeg sy by. Christine noem ook dat dit ’n spesiale reëling was wat vir hul seuns getref is. So iets is nie noodwendig oop vir die publiek nie.

“Alles het baie goed afgeloop, en hulle het dit ongelooflik baie geniet,” sê Christine.

Volgens Jack was die vryval en die valskermspring-rit vir hom die lekkerste, alhoewel hy bietjie bang was in die deur, maar nadat hy uitgespring het, het hy gevoel asof hy kon vlieg.

Albei die seuns sal daarvan hou om net soos hul pa te wees wanneer hulle groot is – en hulle is goed op koers.

 

Justine Fortuin 

Justine@mahareng.co.za