Dansers behaal wêreldstatus

0
479
FOTO'S: VERSKAF

Die Freestyle Wêreldkampioenskappe is in Blackpool, Engeland, by die wêreldbekende Wintertuine gehou en dit was geen verrassing dat 26 rose van die stad, Bloemfontein suksesvol verteenwoordig het nie.

Roselynn van Niekerk, wat deur Marilize Griffiths van Dance Dominationstudio afgerig is, is as kampioen in die o/10 Wêreldkampioenskap in die kategorieë Freestyle en Slow-dance gekroon.

Roselynn van Niekerk. FOTO: VERSKAF

Sizolwethu Ngidi, wat deur bekende dans-instrukteur Senicia du Toit Breytenbach afgerig is, het ook eerste gekom in die o/12 Wêreldkampioenskap in die kategorie Solo Freestyle vir seuns.

Sizolwethu Ngidi het eerste in die o/12 Wêreldkampioenskap in die kategorie Solo Freestyle vir seuns gekom. FOTO: VERSKAF

Breytenbach het genoem dat die SuidAfrikaanse Dansonderwysersvereniging (SADTA) baie trots is op die dansers wat nie net hul harte uit gedans het nie, maar ook Protea-kleure ontvang het en Bloemfontein op die wêreldkaart geplaas het deur 18 trofeë huis toe te bring.

“Ons het ook vier internasionale beoordelaars van die Vrystaat gehad, Senicia du Toit Breytenbach, Elize Cogle, Liezl Luyt en Marilize Griffiths,” het Breytenbach genoem.

Die 4 internasionale beoordelaars van die Vrystaat, Elize Cogle, Liezl Luyt, Senicia du Toit Breytenbach en Marilize Griffiths. FOTO: VERSKAF

Breytenbach het verder verduidelik dat dit baie ure se harde werk en toewyding gevat het om hierdie wonderlike resultate te kry.

“As jy dit kan droom, kan jy dit beslis doen,” het sy bygevoeg. SADTA-president en een van die internasionale beoordelaars, Elize Cogle, het die kwaliteit en hoë standaard geloof wat die afrigters op die dansvloer gestel het. Kwaliteit is beslis iets wat SADTA nastreef.

Breytenbach het opgewonde genoem dat die volgende fokuspunt vir die dansdroomspan die IDO Disco Dance Wêreldkampioenskappe in Oktober in Duitsland sal wees.

 

Abigail Visagie

abigail@mahareng.co.za